Een takie die Erfenisnaweek – hoe braai jy as die reën so neergiet? – was om my karikatuurmuur in die studeerkamer op datum te bring. Daardie muur is immers ook op sy manier die viering van ’n erfenis: ‘n leeftyd in die koerantwese.
Van bo tot onder is dit die ene geraamde spotprente en karikature. Wat nou bygekom het, is Dr. Jack van Die Burger se spotprent van ‘n week gelede na aanleiding van die woeste golwe wat motors meegesleur het. ‘’n Toeskouer (wit hare en wit snor): “Ou maat, lyk my jou ou C-klas is nou ‘n nuwe See-klas.”
Gereelde lesers van my blog en Facebookplasings sal weet waar die inspirasie vandaan kom, veral as hulle mooi kyk na die ou se wit hare en snor, nes myne. .
‘n Tweede spotprent is een wat in Rapport was. Dit is ‘n meesterlike uitbeelding deur Lou Henning van die SAUK se Chris Louw wat ‘n verbaasde HvD verskreeu. Louw is reeds heen. Die onderhoud op Monitor onthou ek soos gister. Dit was oor my persoonlike voorlegging aan die WVK waarin ek o.m. betoog het Afrikaanse koerante het niks om oor verskoning te vra nie; ons het trouens in die voorste loopgrawe gestry om teen die sin van ‘n groot gros lesers die saak van hervorming volhardend te dien. Louw het dit as ‘n “romantisering” afgekraak en so emosioneel geraak dat hy amper in trane uitgebars het. Die onderhoud het in ‘n kwaai skermutseling ontaard.
Oudste spotprent teen die muur is een wat in 1979 in Beeld verskyn het toe die “nuwe dagblad” ‘n tere vyf jaar oud was. Die tekenaar is Orin Scott. By ‘n verjaardagkoek staan hoofredaksielede Ton Vosloo, Piet Botma, Bob van Walsem, HvD en Piet Muller. Beeld word 50 in 2024. Botma en Van Walsem is al oorlede
Onder die vyftien-stuks sketse op my muur is dié wat op agterflappe van HvD-boeke in die 90’s gepryk het: Een deur Charl Marais van die redakteur HvD, gebaadjie en gedas met Volksblad in die hand. Dit was op die agterflap van my eerste boek, Scoops en skandes.
Dan een deur ‘n onbekende kunstenaar uit die tydskrif Magazines in focus: ‘n korpulente HvD, koerant in die een hand en telefoon in die ander. Hy bulder: ”I wish to report a mistake. THE AFRIKAANS PRESS IS NOT DEAD.” Dit was aan die adres van wysneuse wat Afrikaanse koerante al 30 jaar gelede prematuur wou begrawe.
Hierdie karikatuur (een van my gunstelinge) was op die agterflap van my tweede boek, Flaters en kraters. Die aanleiding was ‘n toespraak waarin ek bruisend verklaar het: ”Vir die doempofete sê ek vanaand: Trek uit u begrafnisklere. Gooi weg u kransies. Laat die vonkelwynproppe klap dat ons partytjie kan hou!”
Die derde in die reeks is deur Fred Mouton. Ek sit by my rekenaar waaruit ‘n stortvloed woorde bly stroom – ‘n afskeidsgeskenk van Die Burger by my aftrede einde 1997. Dit was op die agterflap van my reisboek, Oos, wes, reismoles.
Ook in die boekekategorie is die omslag van my versamelde hekelversies, Polisie, polisie, ons reënboog is geroof. Dit toon twee gewapende rowers wat weghol met ‘n reënboog in hul hande. Orin Scott was die kunstenaar.
Wat ook teruggryp na die verre verlede is ‘n geraamde skets van twee gevleuelde engele op die voorblad van die Nieman Association van Harvard se tydskrif, Nieman Reports. Een engel verklap aan die ander: ”Confidentially, I’d rather spend eternity as a Nieman Fellow.” Na ‘n onvergeetlike jaar op die Harvard-kampus in 1976/77 verstaan ek nogal daardie sentiment.
Uit my Volksblad-dae kom allerlei illustrasies by humorstukke uit my pen. Charl Marais het my geteken waar ‘n Brasiliaanse polisieman met ‘n yslike snor my op Rio se lughawe beetkry. Dit had te make met ‘n oorgewig-koffer waarvan ek moeitevol ontslae geraak het. ‘n Tweede is van my kennismaking met die Swartsee in Rusland. Waag ook maar net om ‘n toon in te steek. Die kunstenaar is Fred Mouton.
Die grootste raam teen die muur is om ‘n reeks Honiball-tekenprentjies van 1983, wat ek by Thys Slabber van Melkbos present gekry het. ‘n Koerantverkopertjie skreeu: “BURGHE!” ‘n Man stoom op hom af. Die outjie skrik hom boeglam en lê rieme neer. Die man haal hom in en gryp hom aan sy kraag. Dan woel hy in sy broeksak en vra doodgewoon: “”n Burger asseblief. ” Die verkopertjie is verstom: “Slaan my dood met ‘n kanarieveertjie. En keep de tjyns sê hy ok nog ….”
Twee dinge maak hierdie ene vir my spesiaal waardevol: Honiball se handtekening en die pragtige uitbeelding van die hegte verhouding tussen die leser en sy koerant – iets wat wat al die wondere van die e-era nie kan troef nie.
Op my 50ste verjaardag het ‘n studentemaat, wyle Faan van Huysteen, vir my ‘n geraamde reeksie uit die strokiesprent Peanuts present gegee. Die dierbare Peanuts-karaktertjie is besig om ‘n brief aan die redakteur te skryf. Dit begin: “Liewe redakteur van Briewe aan die redakteur, hoe gaan dit met jou?”
In die tweede prentjie merk die meisiekind Lucy snipperig op: “Hoe gaan dit met jou? Watter soort brief is dit om aan ‘n redakteur te skryf?” In die derde antwoord Linus: ”Ek het net gedink hy sal dit dalk waardeer as iemand oor sy gesondheid navraag doen”. In die vierde slaan die klein ramkat die spyker nog meer op die kop: “Redakteurs is darem ook so half en half mense, weet jy?
Het ‘n geweldige affiniteit vir daardie geskenk van vriend Faan. Trouens, skielik besef ek opnuut ek hoe ‘n affiniteit ek vir die hele muur het. Al die tekeninge saam beklemtoon een oorheersende tema. Dit is die motto waarmee ek my loopbaan afgesluit het, en wat by my steeds geld: Die koerant is soos moedersmelk. Daar is geen substituut nie.