Jong sub by Die Volksblad, circa 1965.

Plus-minus 60 gelede het ‘n groentjie-verslaggewer by Die Volksblad in Bloemfontein ingestap. Dit het ‘n koeranteloopbaan van 35 jaar ingelui. ‘n opwindende skof by Beeld in Johannesburg is ingesluit: die kindertuinjare van daardie koerant.

In ‘n kort reeksie kyk daardie groentjie terug op sy pad. Vandag val die fokus op eerste twee dekades totdat hy in 1980 van Beeld na Bloemfontein toe teruggestuur is om die leisels te vat by die koerant waar hy sy tande gesny het.

Die storie begin in 1957. As Wes-Transvaalse seun slaan ek ‘n Volksblad-beurs los. Ek is Tukkies toe vir vyf jaar. Einde 1961 moes die 20-jarige Tukkie as Goudveldse verteenwoordiger waarneem – ek moes aan die diep kant leer swem.  Begin 1963 het ek in Bloemfontein vas ingeval. Uit die staanspoor is net beroepsvreugde ervaar. Verslaggewing was in my bloed, van moord tot politiek.

In 1964 en 1965 (ongelukkig net die twee jaar) was ek in die persgalery van die parlement. ‘n Dinamiese stukkie van die Verwoerd-era kon ek as’t ware in die voorste ry beleef.  In 1966 het ek hoofsubredakteur geword  (‘n pos wat te gou gekom het). Die moord op dr. HF Verwoerd op 6 September moes ek as groentjie hanteer. ‘n Groter nuusstorie het nie in my dae oor my lessenaar gekom nie.   Nog ‘n grote was prof. Chris Barnard se eerste hartoorplanting op Louis Washkansky op 3 Desember 1967.

Vir byna ‘n dekade was ek nuusredakteur, eers by Die Volksblad en later by Beeld. Die storiestroom oor my lessenaar het die adrenalien laat pomp: ruimte-deurbrake en –rampe; die neerstorting van vliegtuie; vloede; terreur; staatsgrepe; rooftogte; aardbewings; politieke intriges; opspraakwekkende hofsake; kapings; Anneline Kriel; allerlei menslike dwaashede en manewales; spitse op die sportveld.

Op 16 September 1974 het Beeld sy buiging gemaak (prys was 7c, onthou ek).  Die nuusredakteur was een van die bevoorregtes in die voorhoede wat in April reeds Rand toe geskuif het om die dolosse in ‘n ry te gaan te kry. Later het ek assistent-redakteur geword.

Die stigtingsjare was veeleisend maar vrugbaar. Die leermeesters was van die deurwinterdste koerantmense van hul tyd.  Die joernalistieke omgewing was dinamies. Die spangees was kerngesond. Toe die stryd teen Die Transvaler (grootliks weens sy geknoei met syfers) gedugter blyk as wat verwag is, het dit ons in net ‘n hegter eenheid gesmee.

Beeld-dae: Nuusredakteur en sy gesin, circa 1976.

Ek het dit vantevore gesê; ek sê dit weer: Ek wonder of iewers ter wêreld al ’n koerant was waarin soveel mense soveel liefde gestort het.

In 1976 is ek as Nieman Fellow na die Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts. Die jaar in die VSA was genotvol, maar ook uitdagend.   Soweto het uitgebars. Swart nasionalisme het onheilspellend spiere gewys.  Die Suid-Afrikaanse Nieman-genoot voor my, Percy Qoboza, is in die tronk gestop.  In ‘n vyandige omgewing moes ek maar bontstaan.

‘n Jammerte van die 70’s is dat ‘n driejaar-skof in die Londense kantoor  verbeur moes word. Ons passaat op die SA Vaal na Southampton was bespreek en ons huis in Bloemfontein verhuur. Toe word ons oudste, Johan, op ses maande met diabetes mellitus gediagnoseer. Pediaters was uit die veld geslaan. Ons is aangeraai om liefs nie in die ongewone situasie die vreemde aan te durf nie.  Nou-ja, het ek Londen toe gegaan, het ek dalk nooit ‘n Nieman Fellow of nuusredakteur van Beeld geword nie.   Laat ‘n mens liewer juig oor geleenthede wat jy gekry het as wat jy huil oor dié wat deur jou vingers is.

Met my aanstelling as redakteur van Die Volksblad in 1980 is ‘n droom bewaarheid.  Jare tevore het ‘n verslaggewerskollega, Trudi Gey von Pittius, gevra: “Hoekom werk jy so hard? Wil jy redakteur word?” Ek het eerlik geantwoord: “Ja, ek wil.”  Op ouderdom 39 raak my wens toe vervul.  Ek was weer redakteur soos op skool in 1957 (eerste leerlingredakteur van die Volkie-jaarblad) en op Tukkies in 1961 (redakteur van die studenteweekblad Die Perdeby).

Ek was weer in my element.

 

oto 2: Beeld-dae: Nuusredakteur en sy gesin .

Deel dit: