‘n Praktyk wat in die perswese so oud is soos die berge is om jou spertyd – Engels “deadline” – te bly rek tot so ver jy kan. Hoekom vandag al lewer wat jy tot more kan uitstel; so word wyd in die geledere geredeneer.
Die gemeenskaplike eienskap kom by my op toe ek weer Fanus Rautenbach se slimstorie lees oor mense wat volgens hul nering heengaan: Die dominee het die tydelike met die ewige verwissel; die ouderling is ontslape, die skeidsregter het sy laaste asem uitgeblaas, die elektrisiën se liggie is gedoof, en so aan voort.
En die koerantman? Die gaan direk hemel toe, aldus Rautenbach – ‘n gedagte wat enersyds gerusstellend is maar ook in ‘n sin raaiselagtig. Hoe kom die man daarby uit? Hoe rym dit met Piet Cillié se storie oor die ou wat Petrus weens die een of ander beswaardheid oor die stand van sake in die hiernamaals met die koerante dreig?
“En waar dink jy nogal om hier ‘n koerantman te kry?” troef Petrus hom.
Nee, ek dink die spitsvondige Fanus het hier die kans verspeel om met die woord “spertyd” of “deadline” ‘n wysheidjie te pleeg.
Van lang spertye gepraat. Gert Terblanche, oud-nuusredakteur van Die Volksblad, politikus en ambassadeur, is vanjaar net kort duskant 99 dood. Hy was die oudste Nasperser.
Daardie mantel rus nou op Wiets Beukes, oud-redakteur van Die Burger wat ook sy tande by Die Volksblad gesny het. Wiets is 95. ‘n Kortkop agter hom kom Danie Krynauw, oud-hoof van Tydskrifte, op 94. Derde is André Cloete, oud-drukkerybestuurder van Nasionale Tydskrifte. Hy word 94. André, ook ‘n oud-Volksbladder, is merkwaardig gesond en sterk.
Aubrey Smith, oud-setteryvoorman van Die Volksblad en drukkerybestuurder van Die Burger, is 92. Soos Cloete is hy die toonbeeld van gesondheid. Daarna volg ‘n bondel in die laat 80’s.
Wat tref, is al die gemeenskaplikhede. Drie van die is top-vier is van Die Volksblad: Beukes, Cloete en Smith.
Drie het die Phil Weberprys – hoogste bekroning van die Nasionale Pers – verower: Beukes, Krynauw en Cloete.
Twee was drukkerybestuurders: Cloete en Smith.
Twee was van Die Burger: Beukes en Smith.
My voorreg gewees om saam met drie van die vier te werk: Beukes, Krynauw en Smith. Cloete is uit Bloemfontein weg voordat ek daar aangekom het.
Ken hom egter goed genoeg om oor die grootste gemeenskaplikheid vrymoediglik te getuig: Al vier die 90-plussers is eersteklas-Persmense, toegewyd, hardwerkend en lojaal – mense wat jy met trots kollegas noem.
Hou van
Opmerking
Deel