€˜n groter verskeidenheid – na amper twee maande in die bos.

Ek gaan huis toe ook met ‘n buitengewone vrag foto’s wat in albums gesorteer moet word. ‘n Yslike werk daarmee lê voor. Dat na al die jare se Sabiepark-kuiers, seker omtrent 25 keer, die kameravinger steeds honderde kere jeuk, getuig van al die wonderlike dinge wat die eerste keer of opnuut gesien en beleef is.

Die kleinkinders is hoog op die lys van foto-onderwerpe. Vanselfsprekend.

Die tweeling was ‘n derde keer hier. Met hul entoesiasme, geselsies, sêgoed, ywerige hulp met die kosmaak en ander bydraes tot die samesyn was hulle vir Oupa en Ouma tot soveel plesier dat hulle weer genooi is vir Desember – om dan die swembadjie ook te kom ontdek.

Michael het ‘n eerste, onvergeetlike boskuier agter die blad. Tokkie en Mariza het reeds berig oor Michael se “driekuns”: skokdraad, watergat, stoeptrappies. Ek dink die groot diere met hul kolle en strepe, lang nekke en slurpe, sterte en tande, moes op sy tweejarige gemoed net soveel merke gelaat het as die bos op sy tweejarige lyfie. Hopelik is dit positiewe merke. Ek dink hy gaan sommer nog ‘n eersteklas-bosseuntjie word.

Die groot skrik van die vakansie? Vir Michael was dit ongetwyfeld die dinge hierbo genoem. Maar Tokkie het dalk die grootste skrik weg…. ek het haar nog nooit so benoud hoor uitroep nie. Die rede was ‘n enorme swart mamba, langer as syself, wat onder die sementpaadjie by die swembadtrappies ‘n wegkruiplekkie gevind het. Toe sy met haar harde sool amper op hom trap, peul hy as’ t ware onder haar voete uit en seil kronkelend weg in die katjiepiering se rigting. Ek was betyds om sy laaste maneuvers waar te neem.

Tokkie se lugtigheidsvlak is sedert daardie amperse konfrontasie heelwat hoër as gewoonlik. Toe ‘n geitjie die volgende dag uit die dak tuimel tot op ons bed het sy hoog gespring!

Die grootste skouspel was ongetwyfeld nou die middag se optog oor die Sabie deur die 200 buffels en 20 olifante. (Ek onthou die Picassa-album wat belowe is.) Die piekniekplek het egter ook vir ander hoogtepunte gesorg, soos die leeus wat oor en oor gekom het, olifante in oorvloed en die groot verskeidenheid wild wat ons in vrugbare ure daar gesien het. Wonder hoeveel ander Sabieparkers het al die Vyf Grotes by die piekniekplek gesien.

Die grootste bokkerop sedert Perdeberg was natuurlik die leeuvangs by die piekniekplek wat die Van Deventers weens ondeurdagte haastigheid met ‘n skrale vyf minute misgeloop het. Swak Piketberg!

Ek het hierbo na die kleinkinders verwys. ‘n Buiging na hul ouers is darem ook gepas. In die tien jaar van Sabiepark toe kom, was hierdie die bedrywigste vakansie aan die kinderfront, met eers Brent en Marisa (plus Jacob en Thomas en die nuwe enetjie wat op pad is), toe Johan, Mariza en Michael. Vir die ou gryse was dit heerlik om so bederf te word met die skinkery en braaiery elke aand. En pizza uit ‘n Weber smaak vorentoe – dit weet ek nou.

Wat die Wildtuin betref, was die twee ure van betowering met die olifante, njalabulle, seekoeie, krokodille en swetterjoel watervoëls – blaai net so ‘n bietjie terug – ‘n blink, blink hoogtepunt.

Sondag was ons Satara toe waar die gerestoureerde rondawels met hul private braaiplekkies ‘n aangename verrassing was. Op pad het ons in die Maroelaloop ‘n luiperd gekry wat ‘n sivetkat in ‘n boom opgehys het. By die Welverdiend-watergat op die Swenipad het ons ‘n kortstondige paring tussen ‘n leeupaar aanskou. Die ou maanhaar is gou grommend afgeskud. Weet nie of dit “welverdiend” was nie!

Op die Trichardtpad het ons vier renosters gekry – ook ‘n ma en haar kleintjie. Die vier draf seker nou nog – iets aan die naderende voertuig moes hulle erg ontstel het. Tussen Skukuza en Tshokwane was ‘n reuse-trop buffels.

Op ons lang “spesielys” ( amper 40 vir die een ‘n halwe dag) is ‘n kroonarend met sy Afro-kuif – ‘n eerste vir die Van Deventers. Ons het ook gompoue, berghane wat baklei oor ‘n kossie in die gras, bromvoëls en ‘n boskorhaan gesien. ‘n Kenmerk was die baie fisante en patrysies. Een fisantjie het naby Satara soos ‘n verkeersman met ‘n valskerm uit die lug op die enjinkap neergedaal en die Honda se lisensieskyfie deeglik betrag

Van voëls gepraat – Satara se A-blok was werklik in daardie opsig ‘n fees met o.m.kuifkophoutkappers, pylvlek-katlagters, groenvlekduifies en buffelwewers (voorheen aan ons onbekend).

Die wintervakansie van 2008 sal nie maklik oortref word nie. Sabiepark en die Wildtuin sal moet uithaal om vanjaar se vertonings selfs net te ewenaar. (HvD)

Deel dit: