Aan die ou vuurtoring by Mouillepunt, Kaapstad – Suid-Afrika se oudste in sy soort, veteraan-vriend van seelui en stille toeskouer by sovele seerampe – kleef vir die uwe ‘n vreemderige herinnering. Ek herroep dit met ‘n sardoniese glimlag by die viering van sy dubbele eeufees.
Dit was in die 80’s, meen ek, dat ek ‘n keer van Bloemfontein gekom het vir ‘n doe van die Nasionale Pers in die Cape Sun Hotel se glorieuse balsaal. By en na die dinee was kollegiale geselligheid aan die orde. Die nag sukkel ek om aan die slaap te raak, soos, helaas, maar altyd die geval is wanneer die wyn-inname ‘n bepaalde vlak bereik en verbygesteek het. Ek sluimer wel uiteindelik in. Net om die volgende oomblik deur ‘n onheilspellende klageluid gewek te word.
Die wekker se verligte gesig beduie dis 02:00. My liggaam verstyf en my ore word gespits. Ja, werklik, daar kom dit weer: ‘n spookagtige hoe-e, hoe-e . En weer. En weer.
Bekommerd, bel ek later die toonbank. ‘n Slaperige stem antwoord traag. “Haai, dis kamer 333. Wat hoor ek? Brandalarm?” “Nee, geen brandalarm nie. Rustige nag, meneer.” Hy loop nie juis oor van welwillendheid nie, dag ek vies.
Nou is ek weer wawyd wakker. Ek dink aan ‘n nag in ‘n hotel in Cambridge, Massachusetts. Daardie nag is ek en die ander gaste wel deur ‘n alarm gewek. Ons moes in winterkoue uit ons kooie ylings straat toe. Brandwere het loeiend opgedaag. Gelukkig was dit nie regtig ‘n brand nie.
In elk geval, later bel ek weer die Cape Sun se toombank. ‘n Verspieder word na my in die kamer ontplooi. “Listen,” sê ek. Nee, hy hoor niks.
Hoe-e, hoe-e, bly dit egter opklink, duidelik en eweredig. “Listen,” sê ek weer: “There it is”. Dan stilte. Dan weer: “There it is”. Hy luister met gespitste ore.
Toe: “Oh, it’s the foghorn, sir.” Klem op die sir.
Die blerrie mishoring. Lank nadat die verspieder uit is, lê ek nog en luister. Ek word ‘n gevangene van die ritme. En net weggedommel, lui die wekker. Opstaantyd. Lughawe toe.
Gelukkig sus die Boeing se gesuis my gou aan die slaap. Ek land so vars soos ‘n madeliefie. “Lyk of jy lekker geslaap het, sê Tokkie.
Later hoor ek die goeie mense van Mouillepunt se kontrei noem haar, die mishoring, bedoel ek, “Moaning Minnie”. Wat ‘n vanpaste naam vir die lastige slaap-belemmeraar.
(Oor ‘n maand of drie is ons in Sabiepark. As ons daar snags hoe-e, hoe-e hoor, hoef ons nie kop te krap nie. Dis die uil, man! Al waaroor ons onseker sal wees, is of hy terug is op die stoep aldan nie. Die volgende oggend sal yslike wit miskolle op die stoepteëls verklap of hy daar geslaap het of in ‘n boom voor die huis. As dit op die stoep was, kan jy maar weet: rugbreekwerk lê voor om daardie mis afgeskrop te kry. Dit klou, boeta. Tokkie sê hoeka verffabrieke behoort daardie formule in die hande te kry. Dan sal hul waarborge iets beteken! )
Deel dit: