
Kaptein Kevin Osprey op die boeg van sy skip.
“Die Queen is hier! Die Queen is hier!” klink dit uit duisende kele op. Baniere wapper in die wind met die woorde: “Welcome QM2”. In lugballonne en helikopters, op seiljagte en bootjies, te voet op die kaai tot doer in die verte – oral drom entoesiastiese toeskouers saam.
So, onthou ek en Tokkie, die verwelkoming vir die Queen Mary 2 op elke hawe van Kaastad na Sydney – ons onbestrede droomvaart in 2014 van ‘n dosynstuks vaarte sedert 1970. Met sulke aansteeklike bewondering en ontsag word Haar Majesteit telkens in hawens hartlik gegroet. Dit het ons mateloos geïmponeer.
Sommer om die draai, in Februarie, is die Queen weer hier. Sy vaar dieselfde roete as in 2014 op haar Wêreldvaart van 2024, maar met een wonderlike nuwigheid.
Die eerste keer in 25 jaar bied die redery Cunard vir passasiers wat dit verkies, ‘n kort sektor aan, van Kaapstad na Mauritius. Agt dae ter see om te deel in die QM 2 se weelde, styl en skitterende programme sonder die pyn van ‘n eindelose vlug terug. (Ek hou nie van vlieg nie. Raak gou moer gesit. Pes die klein vliegtuig-toiletjies.)
Toe die advertensie op my rekenaar kom, roep ek Tokkie, onmiddelik opgewonde. Is dit nie waaroor ons al amper ‘n dekade lank lugkastele bou en telkens vergeefs oor navraag gedoen het nie: so ‘n nommerpas-herontmoeting met daardie indrukwekkende skip?
Om nou kortpad te vat met my storie: dit het regtig nie te veel inspanning geverg my vrou te oortuig nie, al is ‘n vaart na Walvis in Maart op die MSC Splendida al geruime tyd bespreek. Dus: op 1 Februarie klim ons in Kaapstad weer op die Queen. Tien dae later klim ons in Mauririus af, oornag in ‘n hotel daar en vlieg die volgende dag terug. Net ses uur in die lug.

Ons beskeie nessie.
Kajuit 6005 waarin ons in 2014 was – “stateroom” 6005, verkies die Cunard-mense om hul knusse nessies te noem – is waarskynlik een van die mees beskeie op die weeldeskip. Maar so gelukkig het ons in hom gewoon die 22 dae en nagte tot in Sydney dat ons mooi gepleit het om hom weer te kry. Sal later hoor. Maar alte heerlik sal dit wees om op ons 10-jaar-herdenking van ons kennismaking in 2014 dieselfde roete as destyds na ons eie plekkie te loop.
‘n Bonus is sy gangetjie: een van die kortste, met net 30 kajuite. Baie “eksklusief” het dit vir ons gevoel. ’n Botteltjie Franse sjampanje (Pol Acker se blanc de blancs brut) in ’n silwer-ysemmer het ons met ons aankoms verras. En ‘n boodskap van die kaptein, Kevin Osprey: “We look forward to providing you with happy memories that wil last a lifetime.”

Oor my blogs
Ons was dadelik halsoorkop verlief. So verlief dat ek oor die hele vaart ge-blog het – ‘n eerste in Afrikaans, aldus Cunard. Die blogs is later in my boek Na Verre Hawens (Naledi, 2019 opgeneem.)
Romantiseer ons nie dalk nie en verwag ons nou te veel? Ek glo nie. Geriewe sluit immers in die asemrowende Royal Court-teater met sy topvertonings elke aand; die biblioteek met 10 000 boeke; die elegante Britannia-eetkamer; die enigste drywende planetarium ter wêreld met die duisende sterre aan sy firmament; die ritueel van Engelse middagtee (afternoon tea) in die Queen’s Room, na aanspraak die grootste balsaal ter see. Om verveeld te raak, is total onmoontlik.
Dan ook: vyftien restaurants, vyf swembaddens, balsaal, planetarium, teater, gimnasium, skoonheidsalonne, boetiekwinkels, ’n casino, nagklub en ’n dierehawe wat selfs ’n eie lamppaal en brandkraan het vir bedorwe honde om die been teen te lig!
In 10 jaar het die tyd natuurlik vir ons stilgestaan nie. In my eie geval het ‘n permannte kierie bygekom. Maar die vooruitsig om weer op die Queen te vaar, laat steeds die hart bruise en die oë vonkel, al gaan dit langer vat om op die reuseskip al die lope te loop wat in 2014 vir ons lekker lope was.