Vra iemand my waar my hart vandag is, is die antwoord nie Twickenham in Londen nie. Ja, daar ook, maar eintlik in Pretoria waar my koshuis in my Tukkiedae, Kollege / College, sy 110de bestaansjaar feestelik vier.In daardie plek het ek vyf van die gelukkigste jare van my lewe deurgebring en vir hom is ek na meer as ses dekades steeds brandend lief.
Ek was in 1958 eerstejaar in die ou Kollege (toe nog met ‘n K) skuins oorkant die Ou Letteregebou op die kampus en was een van die pioniers wat in 1960 die Groot Trek na die Proefplaas meegemaak het.
In 1962 was ek huisvoorsitter – so plus-minus die hoogste vorm van lewe volgens my voorkeure van daardie tyd. Ek is nou die oudste lewende lid van daardie spesie.
Oumanne van opeenvolgende generasies vier hul band van broederskap vandag met ‘n la-a-a-ang dinee wat vroegmiddag al afskop. Ek is die eer aangedoen om ‘n stemboodskap by te dra. Daarin roep ek die Kollegemanne so op: Wees trots op julle plek. Julle het rede. Bly lojaal aan hom, hy verdien dit. Bly lief vir hom. Dit bied ‘n lewenslange vreugde.Op een foto is ‘n skyfie wat vir die okkasie voorberei is met enkele foto’s uit my studentedae en ‘n foto by my 80ste verjaardag, vier jaar gelede. Die ander foto is van die HK van 1962.
Op die HK-foto, ongelukkig van onbevredigende gehalte omdat dit agter glas is, is is nou net ‘n skamele drie van die agt oor: die uwe (sittende in die middel), Pierre le Roux (regs van my) en Piet Theron (agter my en Pierre). Die oorledenes is van links Arend de Waal, Oom Chris de Wet (huisvader), Naas du Toit, Hennie Smit en Jan-Jacob de Jager (heel regs).