Drie klein kameelperdjies in ses maande deur roofdiere opgevreet! Hierdie slegte nuus uit Sabiepark het vanoggend loodswaar op die hart kom le.

Slagoffer nommer drie verlede nag was die outjie wat in die voorlaaste nag van ons somerkuiertjie gebore is. Nog onvas op die bene en met sy/haar dun titteltjie van ‘n naelstring wat nog onder hom/haar hang, is die skatlike langnek-kapokhaantjie deur hienas verskeur.

Die vorige twee kleintjies wat daarmee heen is, Spike en Lulu, is onderskeidelik deur leeus en ‘n luiperd platgetrek. Die geldelike verlies is enorm. Vir ‘n klein kameelperdjie kan ‘n mens tot R25 000 kry. Wat nog slegter is, is dat Sabiepark se kameelperdbevolking nou al hoe lank op 12 bly vassteek – te min, te min vir daardie geliefde plek.

Die heel slegste is dat ‘n mens as’ t ware aandadig voel, of jy hulle op ‘n manier in die steek gelaat het, as daardie mensvriendelike hemelbesems in ‘n relatief veilige hawe van tyd tot tyd so wreed ontnugter word. Trouens, Sabiepark is ‘n plek waar ‘n kameelperd so onbedreig voel (gevoel het?) dat dit enige tyd van die dag of nag sy lang stelte onder hom invou en gaan sit – ‘n moeisame prosedure wat ek hier die eerste keer gesien en gefotografeer het.

Op die foto hierbo is ‘n kordate knapie wat enkele jare gelede die dag nadat Tokkie hom afgeneem het. leeukos geword het. Hy was die tweede enetjie in ‘n maand wat so aan sy einde gekom het. ‘n Hartseer-verlies.

‘n Toneeltjie na die eerste vangs van daardie leeu-inval bly in my geheue ingebrand. Ek vertel daarvan in my Sabieparkboek Buurman van die Wildtuin, maar roep dit graag weer hier in herinnering.

Kameelperdjie nommer een is die Saterdag nie ver van ons huis nie aan die rivierkant van Wildevy gevang. Die Sondagmiddag sien ons toe hoe twee volwasse diere stadig, doelgerig na die toneel van die vangs stap. Hulle het ‘n rukkie in doodse stilte vertoef by die hartverskeurende hopie beendere en vel wat oorgebly het nadat die leeufees verby was. Toe was dit of hulle hulle van die plek losskeur.

Daarna het hulle afgemete die bos begin instap. Verder en verder weg. Nekke orent soos altyd. Koppe omhoog. Hulle het nie weer omgekyk nie.

Was dit die pa en die ma van die knopknie-slagoffertjie in ‘n finale vaarwel? Dalk was dit. Dalk was dit nie. Dalk was die twee onverwant aan die slagoffer, en het ek die toneeltjie wat hom voor my afgespeel het, net geromantiseer. So het ek myself probeer troos. Maar tog, hul skynbare pyn het my aan die hart geruk.

Dat ‘n mens vir die kameelperd met sy indrukwekkende gestalte soveel deernis koester, kan vir ‘n oningewyde dalk vreemd opval. Waarom dan? Die oorheersende rede moet wees dat ‘n kameelperd so mensvriendelik is. Waar en wanneer jy een in Sabiepark raakloop, straal dit altyd ‘n warme welwillendheid uit. Die gesindheid is duidelik: “Ek stel in jou, vreemde tweebeen-wese. en in jou doen en late belang.”

Kameelperde is ook ware aristokrate van die veld. Kom jy skielik op een af, bly dit kalm staan en kyk as’ t ware eers die kat uit die boom. Dit betrag jou nuuskierig; kies nie sommer holderstebolder koers soos die deursnee-bosbewoner nie.

Nee waarlik, ‘n kameelperd is ‘n dier met persoonlikheid en “teenwoordigheid” – een van die gunstelingbesoekers aan jou werf.

Maar hienas? Die is maar ‘n nare nasie. Onaansienlik en met ‘n slegte reuk wat hulle vooruitgaan. Sluipers en snuffelaars. Wrede jagters. In Sabiepark is ‘n reuse-luislang van seker dertig, veertig jaar oud onlangs deur hienas vol happe gebyt – seker om sy prooi te roof. ‘n Ruk gelede is ‘n bosbokkie in Jakkalsebsssie deur ‘n pak hienas verskeur. Die jammerlike gebler was soos ‘n kind wat huil. Vlakvarke word by die dosyne verorber.

Ja, Sabiepark se hienas is bra kaatjie van die baan – vir eers omdat hul natuurlike vyande, leeus en wildehonde, uit die pad is. Ten tweede is daar ook geen jagters wat hulle bedreig nie. En toe ek ‘n keer my stem verhef het oor die skade wat hulle aanrig en die gevaar wat hulle inhou, het ek by mede-Sabieparkers sleg bloedneus gekry. Los die hienas uit. Dit was die ferme boodskap.

Geen wonder nie dat hulle loop waar hulle wil net wanneer hulle wil. Ek en Tokkie het al versteend by ons lapa gesit terwyl ene om 17:15, helder oordag, by ons verbyskuur. Toe hy uitdagend by my vuurtjie gaan staan en snuif, het ek darem my teenwoordigheid van gees so herwin dat ek ‘n foto kon neem. ‘n Ander keer het vier van hulle soos honde op hul voorpote kom le en my dopgehou waar ek – gelukkig veilig afgesper deur ‘n sparretjieheining – my ontbytpap sit en eet.

Ander Sabieparkers rapporteer soortgelyke onplesierige ondervindings: van hienas wat onheilspellend tuis op hul stoepe kom snuffel; soos “groot bere” met hul pote op die vensterbank nuuskierig deur kamervensters loer, of selfs ‘n aangebrande pot op ‘n braaiblad se deksel om die water met sy lekker vleissmakie so staan-staan luidrugtig op te slurp.

Van ons stoep af het al kussings en skoene verdwyn. Hienas se werk. ‘n Gieter is vermink en die rubber om my motor se sleephaak is afgekou. Die buffers van die motor van vriende se vriende het sleg deurgeloop.

Een egpaar het hulle boeglam geskrik toe hul kleinkind vroegoggend by ‘n oop skuifdeur uitwaggel om die “hond” op die stoep te gaan streel. ‘n Ander is een aand,doodverskrik, lank in hul lapa vasgekeer toe ‘n hiena doodluiters in die deur kom stelling inneem.

Lank gelede was die beleid in Sabiepark dat summier ontslae geraak moet word van enige ongedierte wat die reservaat se mense of diere bedreig. Talle leeus en selfs ‘n luiperd is om daardie rede doodgeskiet. Nou is die beleid anders. Die hienas moet maar vang onder die kosbare wild. Dis hul geboortereg. So word geglo.

Hoe moreel dit is om diere – kameelperde en ander sagte teikens – in ‘n toegekampte reservaat van minder as 400 hektaar aan die genade van bedorwe roofdiere oor te laat, is egter ‘n vraag. Nogal ‘n ongemaklike een vir hierdie dalk te sentimentele Sabieparker, met sy vooroordeel teen hienas en sy voorliefde vir die minsame kameelperde. Maar dis nou eenmaal soos ek is.

HvD

Deel dit: