Sondagmiddag 13:05......

Sondagmiddag 13:05......

By die jaarvergadering van die private natuurreservaat Sabiepark het ‘n jong man ergerlik betoog dat alle hiënas uit die park geboender moet word. Hy het gepraat teen die agtergrond van iets soos R18 000 se hiëna-skade aan sy motor. Ek het vir sy mosie gestem, al het ek geweet die “wiend waai wes”.

Hoe erg ons anti-hiëna-groepie op ons baadjie sou kry, was tog ‘n ontnugtering. Klaarblyklik voel Sabieparkers oorweldigend: Los ons hiënas uit!

My stem teen die saamwoon met daardie sluipende dierasies met hul afdraende-rûe en onaangename aroma spruit nie uit eie skade nie. Skade wat daar was, was gering: ‘n kussing hier, die plastiekbedekking van my trekstang daar.

My stem was om twee ander redes: vir eers die gevaar wat dié diere inhou vir veral kinders wat buite speel of stap; ten tweede die bedreiging vir ons kleinwild. Honger hiënas verskeur ‘n bosbokram soos niks. Sabieparkvriende wat so ‘n aanval beleef het, gru nou nog oor die doodskrete van die arme bok terwyl hy deur ses aanvallers verskeur word.

Sedert die jaarvergadering het niks gebeur om my negatiewe gesindheid jeens daardie ongediertes om te keer nie. Trouens, gereelde besoeke aan my huis al hoe vroeër in die middag en ‘n verbluffende demonstrasie van ongekende kakekrag het my vrese oor die bedreiging vir mens en dier net versterk.

Sondag presies 13:05 stap ‘n hiëna toe weer skuur-skuur teen ons heining verby – die vroegste middagkuier nog. ‘n Mens ys oor die scenario as ‘n weerlose kindjie op daardie onverwagte tyd van die dag in die pad van so ‘n honger aasdier moet kom.

Oorkant die pad in die Sabie-Sand het een mos ‘n jaar of wat gelede luiters by ‘n huis ingestap, verby twee deure. By die derde deur is hy in. Toe pak hy ‘n bejaarde slapende vrou aan die kop en byt haar dood. Dit was voorbladnuus in die koerante.

Die kakekrag-storie laat ‘n mens besef: een byt en jy’s bokveld toe. Ons het naamlik ‘n bobbejaan-werende asblik, stewig ge-anker en ‘n deksel wat nogal vat verg as jy hom wil roer. Nou die oggend sesuur klink ‘n gestamp op. Toe ons opstaan, lê die asblik doer – die inhoud versprei in die veld.

Op die toneel van die misdryf is dit net hiënapote. Vastrap – en glymerke wys watter inspanning en krag dit geverg het om eers die blikdeksel te lig en toe die rubberdrom met sy tande uit te pluk.

My vrou, Tokkie, terg hy was agter my kruisbande aan wat weens ‘n onklaar knippie tussen die weggooigoed beland het. Dus, liewe vriende, as julle iewers ‘n hiëna met ‘n donkerblou paar bretels (dis mos die Hollands vir kruisbande) met ‘n Paisleypatroon sien hinkepink – dis hy daardie!

Deur die jare het ek al hier, daar en oweral hiënastories gehoor, beleef en ook aangeteken wat ‘n mens se armhare laat orent staan. Dalk die ergste was Fickie Visagie-hulle se kleinkind wat vroegoggend by die deur uitgewaggel het na die “hondjie” op hul voorstoep.

By die Van Deventers moes ‘n Swartlandse boer al ene met ‘n graaf afweer wat opsluit die stoep wou op terwyl ‘n groep vriende gesellig kuier. Ek het al ontbyt geëet met vier wat vir my lê en kyk soos honde met hul koppe op hul voorpote, Dit was gelukkig nadat ons ons lapa afgesper het. Nou die nag het ‘n ou sy blaas op ons stoep geledig. Genoeg, genoeg. Dat die hiënas ‘n gevaar inhou, is immers ‘n feit soos ‘n (see-)koei.

Ek respekteer die demokrasie en aanvaar dat die meerderheid in Sabiepark gepraat het. Dus moet ek maar my bek hou en met die hiëna-bedreiging saamleef. Al raad is om klein kinders vir geen oomblik buite sig te laat verdwyn nie.

Maar ek het darem ‘n laaste woordjie op die hart.

Een van die argumente ten gunste van die hiënas so tussen ons is dat dit ook hul bos is. Goed en wel, dit is. Maar is dit dan nie ook leeus en olifante se bos nie – en hulle word buite gehou?

Is dit nie ook buffels se bos nie? Buffels was jare lank deel van Sabiepark se dierebevolking. Toe maak een ‘n indoena dood en karnuffel ‘n eienaar so dat ‘n helikopter hom moes kom oppik hospitaal toe. Daarna is die spesie buffel vinnig tot “ongewenste immigrant” ge-herklassifiseer.

Hoop nie met hiënas loop ons nog dieselfde droewige paadjie nie … eers ‘n noodlottige aanval, daarna uitboendering. (HvD)

Deel dit: