
Tokkie en Ben geniet ‘n grappie.
Vir die enigmatiese Ben Smit (86) het ons gegroet op ‘n onortodokse wyse wat hy met ‘n spitsvondige opmerking as presies net reg sou bestempel het. Ongetwyfeld die informeelste totsiens-diens wat ek in my 82 jaar bygewoon het.
Aan die einde was ons almal op die voete, vonkelwynglasie voor die lippe, terwyl Louis Armstrong (Satchmo) “What a wonderful world” met sy growwe rasperstem uitgalm. Die wyn, die lied en die traan in die oog!
Dr. Carel Stander van die Paarl, ‘n vriend vir 72 jaar uit hul Tweelingdae in die Oos-Vrystaat, het in sy huldeblyk reg laat geskied aan hierdie “man van 100 ambagte en meester van almal”. ‘n Internasionaal gerekende onkoloog was hy, maar hy kon ook ‘n Volvo se enjin uitmekaarhaal soos wafferse meganiese ingenieur. Hy was ‘n wyse, spitsvondige en diepsinnige man met ‘n verkennende gees en kundighede wat skynbaar aan die grenslose gegrens het.
Koerantlesers behoort die naam te herken: Ben Smit, Melkbosstrand. Sedert sy aftrede het dosyne der dosyne briewe aan koerante uit sy pen verskyn: in die Argus en Cape Times in foutlose Engels en in die laaste jare al hoe meer in Die Burger in sy moedertaal.
Sy nederigheid het van sy skooldae op Tweeling saam met hom gekom, al was hy een van daardie spesiale soort nederige mense wat werklik geen rede gehad het om nederig te wees nie.
Hy was ook ‘n man sonder pretensie, afkerig van opgesmuktheid en grootdoenerigheid; iemand wat andere nie aan hul rang of status beoordeel het nie maar aan inherente kwaliteite. Sy vriende sal die rustige, aardse Ben se waardevolle bydraes tot gesprekke en die periodieke intellektuele ekskursies saam met hom ten seerste mis.
Uit die besadige dr. Carel se mond het die stoutste grappie gekom wat ek nog by so ‘n geleentheid gehoor het. Die een van “vvv” en “vvvvvvv” – julle ken hom mos. Was glo een van Ben se bydraes tot Tweeling se eeufeesblad. Ek kan sien hoe Ben se oog vonkel.
My bydrae was ‘n ekstra versie vir “What a wonderful world” : “I see human beings like Ben Smit, I see the value that they have added to the lives of so many people, and Ithink to myself What a wonderful world. Yes, I think to myself what a wonderful world. Oh yeah.”