“Haai jy, tannie met die rooi rok, staan ‘n bietjie diekant toe.” Die “tannie” het gedwee gehoorsaam.

‘n Sosiale foto by ‘n Kaapse tedoe.
‘n Sosiale foto moes by die een of ander tedoe in die Bloemfonteinse stadsaal geneem word en die jong koerantfotograaf, ene Mordegai, het ongeduldig begin raak met die uitgelese spannetjie wat verseg om koppe bymekaar te staan, soos die resep vir sulke foto’s was.
Die “tannie” was nie sommer ‘n tannie nie. Sy was niemand minder nie as mev. Lettie Fouché, Suid-Afrika se presidentsvrou. Gelukkig was sy nie kop in die wolke soos party ëerste vroue” wat n haar gekom het nie; eintlik ’n liewe, plat-op-die-aarde-mens nes haar man, Jim.
Dit was die era van sosiale foto’s in koerante, ‘n tydperk van minstens drie dekades: so plus-minus die 50’s, 60’s en 70’s. Na elke ontbyt, tee, noenmaal, skemerkelkie, dinee, dansparty en anderlike opskop het uitnodigings op die nuusredakteur gereën. Elke geleentheid is stiptelik in die dagboek by die gegewe datum aangeteken, ook plek en tyd.
Elke dag, veral elke aand, was ‘n verslaggewer en fotograaf, gewapen met ‘n lys opdragte, van een okkasie na ‘n ander. Die verslaggewer moes die fotokandidate uitsoek en hul name noukeurig neerpen. Die fotograaf het gesorg vir die choreografie en die druk van die knoppie.
Vir hul moeite was daar die beloning van ‘n paar eetgoedjies en ‘n glasie wyn of twee. Veral laasgenoemde was nogal vir party ‘n trekpleister. Vir diegene was die sosiale ronde minder van sleurwerk as vir ander.
Uitdagings was legio. Een was ‘n gebrek aan dissipline en samewerking by vername gaste. ‘n Ander was dat sekeres verskyning op ‘n sosiale foto in die koerant as ‘n statussimbool beskou en die kuns bemeester het om in elke liewe foto op te duik.
Een so ‘n Bloemfonteiner was prof. Benedictus Kok van die Vrystaatse Universiteit. Later is opdrag gegee: laat hom op die punt staan. Maklik om hom dan af te sny. Maar Benedictus was nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie. Gou het hy die strategie agtergekom. Daarna sou jy hom nie met stok en swaard sover kry om ‘n afsnybare posisie in te neem nie.
Altyd was daar ook die teleurgesteldes wat met sterre in hul oë nadergestaan en dan oor die hoof gesien is. Die sterre het plek gemaak vir ‘n verwytende blik. Vir die agtergeblewenes het ‘n mens soms jammer gekry, veral as dit oor en oor gebeur.
Nog ‘n uitdaging was rokke wat deurskyn. Hoe beduie jy vir ‘n belangrike vrou dat die omvang van haar borsmaat ‘n komplikasie gaan meebring as die flits afgaan?
Vir die verslaggewer was die uitdaging om die name reg te kry wanneer die uitgesoektes ná die druk van die knoppie soos klokslag uitmekaarspat. Onthou daar is Smiths en Smitte, Marais’s en Marees, Lombaards en Lombards. ‘n Kollega, Rina Koen, se beleid was om doodseker te maak. As een sê sy is Anna, wou Rina weet: Anna met twee n’e of Ana met een n.
Die era van die sosiale foto was ook die era van die tamaaie koerant. Mededingers om die advertensiepot was daar nog nie juis nie. Koerante van 64 bladsye was veral op Donderdae by Die Volksblad algemeen. Vir die bladsye en bladsye wat reeds die vorige dag opgemaak moes word, is die mandjie met sosiale foto’s van die week nader getrek. Dan is gemeet en gepas, gesny en weggesmyt.
Soms moes uitnodigings onvermydelik geweier word. Te veel geleenthede op een dag was ‘n rede. Daar was ook ander, soos die geringe potensiaal van mense wat ‘n foto sal versier by sekere byeenkomste, om dit sag te stel. Dit kon nogal grimmige reaksies ontlok. ‘n Amperse buurman het ‘n keer weke nie met my gepraat nie omdat ‘n uitnodiging in laasgenoemde kategorie beleefd van die hand gewys is. Bande is later herstel nadat hy weer die koerant nodig gekry en sy trots in die sak gesteek het.
‘n Interessante gevolg van die kultuur van sosiale foto’s was die spesiale band wat tussen sekere hoogeerwaardes en fotograwe ontstaan het. Wedersydse welwillendheid is so opgebou. Tussen die imposante Oom Sand du Plessis, Administrateur – hy met die ruie wenkbroue – en Lappies Labuschagne, hooffotograaf, was so ‘n spesiale verhouding.
Ek was een aand by met die opening van die Brandwagkamp in Golden Gate toe Oom Sand vir Lappies ná die fotonemery vra: “Wat sal jy drink, Lappies?” Lappies vra toe vir ‘n brandewyn en Coke. Net daar stap die Administrateur kroeg toe, wag sy beurt af en kom terug met ‘n dubbel Oude Meester.
Goeie tye.
(In “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord” is ‘n afdeling oor persfotograwe en hul foto’s. Die boek is nou uit. Bestel dit regstreeks by Tertia Swart – 078 648 8616 / tertia@naledi.co.za of naledi.co.za (Naledi se webtuiste). Danksy ‘n ruim subsidie van die Hiemstratrust kos die boek net R260 (by jou voordeur afgelewer.)