Die Hapoordam kry sy naam by ‘n legendariese bul wat 24 jaar lank in die Addo-olifantpark geheers het. Sy naam is onuitwisbaar in Addo-folklore oor die genadedood wat hy ‘n gedaan ou olifantkoei, Ouma, toegedien het. Hapoor het haar skedel vier keer met dodelike presisie deurboor om haar van haar pyn te verlos, as ek reg onthou.
Die voortreflike bul was ook die hooffiguur in ‘n boekie van jare gelede, Hapoor en Slurpie, wat mense van die ouer generasie dalk sal onthou.
Ironies genoeg, het op Hapoor ‘n minder romantiese dood gewag. Nadat hy uiteindelik deur ‘n jonger kroonprins uit die trop gedryf is, het hy ‘n ruk alleen rondgedwaal – nukkerig en aggressief. Toe hy te avontuurlustig raak en oor ‘n heining klouter, is hy deur ‘n veldwagter doodgeskiet. Sy manjifieke kop hang in die eetkamer by Addo.
Destyds met die Ouma-insident in die jare sestig het ‘n Volksblad-kollega Ollie Olwagen ‘n liedjie gekomponeer wat ons jonger garde seker maar uit die een of ander verdorwenheid hartlik saamgesing het: Hapoor steek vir Ouma dood, van die wal tot in die sloot…
Dit net terloops. ‘n Waarheid moet uit. Dit is dat hierdie Wildtuin-verknogte na dese moet erken dat Addo in die algemeen, en Hapoordam, in die besonder, plekke is waar olifante wemel. ‘n Mens kan maar met groot verwagting na hulle gaan soek.
Sondagmiddag het ons ure lank, wyntjie in die hand, sewe Grootvoete van die stoep van ons huisie, nommer 33, dopgehou. Twee was in ‘n langdurige slurpgesprek. Daarna is ons op ‘n wildsrit.
By die Gwarriepan kry ons toe weer olifante: sewe grotes en twee kleintjies. Na ‘n ruk het die twee suigelinge hulle uit die beskutting van die olifante se voorbene – soos boomstamme rondom hulle – gewikkel, teen die pan se rant af gegly en heerlik in die modder geplas, soos varkies. Wat ‘n genot vir ons en vir hulle!
Toe kom vriende verby met die nuus dat ‘n trop olifante by Hapoordam saamdrom. Ons is vort in daardie rigting. Net toe ons die laaste draaitjie vat, sien ons die rye karre, en daarna die olifante. Daar was seker twintig of so, lyf styf teen lyf vasgebondel, terwyl hulle ‘n middag-verfrissing geniet met slurpe wat in gelid sak en opslurp, sak en opslurp. Ook daar was ‘n paar kleintjies – wat gewis op ‘n geil jaar vir Addo se olifantbevolking dui.
By die kamp aangekom, laai ek gou ‘n klompie e-posse op my koffiemeule-drarekenaartjie af. Een kom van my broer Christo Malan uit Australie. Wat soek ons in Addo, wil hy weet. Sy enigste besoek was ‘n mis-lukking. Hy het net mis gesien!
Ek kon dadelik met genoegdoening ons gelukkiger ervaring rapporteer – en toe was die plesierigste olifant-geleentheid van ons kort besoekie nog voor.
Die het die volgende oggend gewag toe ons deur die park na die nuwe (relatief nuwe) Matyholwenihek naby Colchester, minder as 50 km van Port Elizabeth, ry en besluit om vir oulaas by Hapoordam te gaan loer.
Ons tydsberekening was perfek. Toe ons aankom, sien ons skielik net stof en hoor ons die dreunende voete. ‘n Horde olifante, groot en klein, bestorm die dam asof ‘n Groot Dors hulle dryf.
Party bondel by die groot dam. Ander sak toe op die kleiner enetjie langsaan. Dit bad en drink, stoot mekaar rond en rol in die modder. Die mae grom van lekkerte.
Ons het vasgenael bly sit en kyk, onbewus van die horlosie. Maar so skielik soos die trop gekom het, het hulle weer padgegee. Amper geruisloos. Eensklaps was die olifante net weg en die dam verlate.
Tokkie het nie minder nie as veertig Grootvoete getel. My Canon het natuurlik oortyd gewerk. Die foto hierbo is van ‘n groepie wat by die klein dammetjie drink. Ek kon net so wel ses of sewe ander foto’s gekies het.
Addo, ons kom weer! Hapoordam, jou doodlekker dam! (HvD)
