08-IMG_1947

07-IMG_1944

05-IMG_1937

04-IMG_1936

Naand uit Melkbos

Die grootste brood wat ek nog gesien het? Ongetwyfeld op Sondag 18 April op die gesellige Piazza Bra – die grootste plein in Verona en die hart van die stad.

Van 16 tot 19 April is die jaarlikse Le Piazze Dei Sapori op die plein langs die historiese Arena di Verona gehou. Dit is wanneer elke streek in die land met sy tradisionele geregte en wyne na Verona opruk vir ‘n kosfees soos min.

01-IMG_1872

1-IMG_1868

1-IMG_1949

03-IMG_1934

09-IMG_1950

10-IMG_1953

02-IMG_1875

Van 10:00 tot middernag word oor vier dae in oor die 100 kraampies spiere gebult met brode, kase, worse, salami’s en ‘n keur van Italiaanse wyne waaroor ‘n mens in smaak, voorkoms en volume net in die oortreffende trap verslag kan doen. Ses Italiaanse brouery bring ook hul beste bier.

Kyk daardie massiewe brode op die eerste twee foto’s. Dis die einste hulle waarvan ek hierbo praat. Kyk die kaas in die hand van ‘n buurman. Of die gestopte speenvark wat deur ‘n ander uitstaller begin kerf word. Dis menere, hoor!

Ons het ook olywe raakgeloop so groot soos duifeiers – stapels daarvan neffens klein bergies rissies, ingemaak en gedroog.

Italianers ken van kos maak. Na hierdie jaarlikse fees word net die allerbeste kos-, wyn- en biermakers genooi. Die prosies vir proe wat ‘n besoeker joviaal aangebied word, laat die hongerte soos ‘n digte mis op jou toesak.

Ons het per taxi opgedaag om die Arena te besigtig. Hierdie indrukwekkende Romeinse amfiteater in die Piazza Bra is dalk die stad se bekendste toeriste-attraksie (naas Juliet se balkon). Dit is maar net 2 000 jaar oud en word beskou as een van die bes behoue antieke strukture in sy soort. Die arena is internasionaal beroemd weens die fenomenale operaproduksies wat gereeld aangebied word.

Die hotelmeisie het gewaarsku dit kan maar dol gaan op ‘n Sondagmiddag op die boomryke Bra met al sy buitelug-restaurante, kafees en kuierplekke. Op so ‘n reuse-basaar was ons egter nie voorbereid nie. Die woeligheid het die indruk gewek dat die hele Verona gelyk ‘n ietsie te ete en te drinke kom soek het.

Die omvattende spyskaart maak die keuse nie maklik nie. ‘n Stukkie soetgebak dalk? ‘n Pastei? ‘n Gevlegde broderigheid met kaas? Tokkie het vir ons van die broodjies gekoop. Gelukkig het ‘n parkbankie net oopgegaan met ‘n uitsig op die spuitfonteine, die standbeeld van koning Victor Emmanuel op sy perd en die reusepilare van die Palazza Barbieri, wat deesdae as stadhuis dien.

Smulpape kan gerus maar ‘n aantekening maak oor die stukkie Italiaanse kultuur wat jy in April in Verona raakloop. Saam met die fees op die plein word ook ‘n groot verskeidenheid musiekkonserte aangebied – van rock ‘n roll tot opera. En plaaslike restaurante sit fynproewer-spyskaarte voor wat deur die Piazze Dei Sapori geïnspireer is.

Kom na Verona in die lente en maak julle klaar vir ‘n fees. Dis goeie advies en dis gratis (die advies, bedoel ek).

Deel dit: