
As ‘n ou ouer as 80 is, 60 jaar klaar is met universiteit, 65 jaar gelede in matriek was en al ses jaar verby jou goue bruilof is, is ‘n baken van 25 jaar nie juis iets om oor huis toe te skryf nie. Maar wag nou: 1997 was in die lewe van Jakob Hendrik van Deventer nie maar net nog ‘n ou jaartjie nie.
Ek vier vanjaar die silwer jubileum van my aftrede – 25 goue jare! – die silwer jubileum van ons verhuising na Melkbos – ook 25 goue jare – die silwer jubileum van verering met ‘n silwer penning, sy eerste, deur my skool, Volkies Potchefstroom, en, les bes, die silwer jubileum van my verwerwing van Naspers se goue Phil Webermedalje vir loopbaanprestasie. Laasgenoemde is in Augustus 1997 aan my toegeken.
Nou die dag grawe my Tokkievrou die uitgawe van Naspers se destydse personeelblad, Naspersnuus, met daardie nuus op sy voorblad uit ‘n laai vol rommel en vra: “Wil jy hierdie nog he?” Natuurlik wou ek.
Die ander twee bekroondes van 1997 was wyle Charles Fryer (PJ Cillie-medalje vir kreatiwiteit) en Jan Malherbe, my opvolger as koerantehoof (Hubert Coetzee-medalje vir bestuur).
Vergewe my maar dat ek met ingenomenheid op die verowering van die Phil Webermedalje terugkyk en die jaar 1997 met soveel onverbloemde vreugde in herinnering roep.