
Op my stoep op Melkbos in 2007. Van links is Helgaard Raubenheimer, HvD, wyle Eric Wiese, wyle Salie de Swardt en Ton Vosloo.
As ek ‘n kollega sou moes kies met wie ek die graagste op ‘n verlate eiland uitgespoel sou wou raak, sou die innemende Salie de Swardt ‘n sterk kandidaat gewees het. Talryke gedeelde ervaringe sou oorgenoeg raakpunte oplewer vir gesprekke om die lang ure sonder ander geselskap mee om te kry.
In die jare 70’s met die stigting van Beeld in Johannesburg was ons jare lank ‘n tweeman-saamryklub vir die sowat 20 km uit die noordweste na Doornfontein, hy uit Fairland en ek uit Randparkrif Uitbreiding 3. Ons was albei stigterslede.
In die 80’s toe die politieke tumult in Afrikanergeledere op sy ergste was, was hy redakteur van Beeld en en ek van Die Volksblad. Ons koerante was van die primêre teikens van ver-regse wrewel weens ons sogenaamde “liberalisme”. Ons kon heelwat nota’s vergelyk.
Later was ons saam in die direksie van Nasionale Koerante. Vir direksievergaderings in die Kaap het ons albei in die Hotel President in Seepunt tuisgegaan. Saam-eet op die vooraand van die vergadering was ‘n tradisie.
In die 90’s was hy hoof van tydskrifte en ek hoof van koerante. Ons was in buurkantore op die 18de verdieping van die Nasperssentrum aan die Heerengracht. Ons P.A.’s, Willa Joubert en Lizette Hanekom, was in ‘n gemeenskaplike kantoor met ons aan weerskante.
As lede van Naspers se bestuurspan het ons by allerlei eksotiese bestemmings vergader, bv. Die Hotel Elephant Hills by die Victoria-waterval in Zimbabwe, die Namibwoestyn by Swakopmund in Namibië en Skukuza in die Krugerwildtuin.
Ons plekke in die Naspers-losies by die twee Nuwelande – rugby en krieket – was net in uitsondelike omstandighede leeg.
Ons kon saam ‘n glasie lig by die notering van Naspers op die Johannesburgse Beurs in 1994. Op die Boeing terug Kaap toe het ons, al hoe vroliker, saam met Andrew Marais, hoof van die skakelafdeling, die een heildronk op die ander op die heuglike geleentheid geklink.
Ek was Nieman Fellow aan Harvard in die VSA in 1977 en hy in 1983. Een van die agternavreugdes van Niemanskap was ‘n jaarlikse aandpak-dinee op plekke soos die Wild Coast Casino, die Swaziland Spa en die Mmabatho Inn. Dobbelplekke was toe nog taboe binne Suid-Afrika se grense.
‘n Feestelikheid was die bywoning van die Nieman Foundation se glansryke 50ste verjaardagfees in Cambridge, Massachusetts. Die besoek is afgerond met ‘n gerugmakende reis per huurmotor van Boston na Washington saam met ons gades, Lisa en Tokkie.
Deur die jare het ek en Salie vele pret saam gehad. Die pret op daardie reis kan ‘n bundel vul. In daardie motor is baie gelag. Een insident was toe ons, met my aan die stuur, in die deelstaat Maryland ‘n verkeerde afrit vat en tot afgryse van ‘n klompie mense by ‘n buitelug-restaurant rakelings verby hulle
skuur.
In Washington is ons koninklik in die SA ambassade onthaal. Piet en Lulu Koornhof was die ambasadeurspaar. Hul kleuter-kleinkind was op besoek. Speelgoed was oral op die ambassade se vloere gesaai.
Einde 1997 het ek afgetree. Salie het nog ‘n dekade by Naspers gebly en die hoog geagte besturende direkteur van die nuwe Media24 geword. Die sien het minder geword. Die De Swardts het wel ‘n keer in Sabiepark kom kuier. Elke jaar in Desember is ‘n braai vir oud-Beeldmense by hul pragplasie Akkerdraai buite Stellenbosch aangebied. Die het ek graag bygewoon solank dit vir my moontlik was. By sovele ander onthale was ons tafelgenote.
Van Salie sou ek by sy skielike heengaan in ‘n hotel in Londen hope anekdotes kon uitryg. Hy was by al sy gravitas iemand met ‘n onblusbare humorsin. Waar hy was, was luimigheid nooit ver nie.
Ek gaan my twee tot twee stories beperk. Die een is in besonderhede opgeteken in mede-Nieman Michael Green se memoires Around and About. Die geleentheid was ‘n Nieman-banket by die Wild Coast Sun. Dit gebeur toe dat Salie laataand by sy suite se skuifdeure uitstap vir vars lug. Hy betrap ‘n paartjie op die helder verligte grasperk voor hom volstoom gemoeid in wat Green Ugandan discussions noem – dit n.a.v. ‘n Ugandese gesant en sy sekreterasse wat in ‘n lastige situasie betrap is. Sy verduideliking was: We were having discussions.
Nietemin, Salie wat ‘n storie met oorgawe kon vertel, is daardie naweek telkens oogeroep om sy waarnemings met ons ander te deel.
By sy afskeid by Beeld het hy aangeknoop by ‘n rubriek van Albert Crafford in Die Beeld oor die week se dinge by die parlement. Een vermeldenswaardigheid was die besoek van ‘n Rus, ene Popof. ‘n Ander was die Spoorwegbegroting waarin die minister, Ben Schoeman, telkens die Duitse digter Goëthe aangehaal het. Schoeman het hom Gooth genoem.
Craffie sluit toe sy rubriek af: Wel, Goothbaai, ek moet nou Popof. So het Salie ook sy toespraak afgesluit. So sluit ek hierdie skrywe af: Goothbaai, Salie, dierbare vriend en kollega.