Naand uit Melkbos
In eerbied, en met instemming van die digter, sit ek vandag ‘n voortreflike, uitsonderlike en, vir my, hoogs aangrypende vers op my blog.
Die titel is “Google Golgota” en die digter, Johann de Lange, verplaas daarin die Paas-gebeure tot die moderne tyd met Facebook, Twitter, sms’e, klankgrepe, webwerwe, nuushelikopers, advertensieflitse, digitale foto’s, eBay en wat nog.
Dié gedig bring die “ou-ou tyding” relevant en byderwets, maar tegelyk ontroerend en onthutsend, by die moderne Christenmens tuis.
My jong vriend en oud-kollega J.P. Nel het dit in die Paastyd op pad na Loeriesfontein – sy heimat – op sy motorradio gehoor. Hy het Johann de Lange op Facebook genader en dié het sy pennevrug sonder ‘n oomblik se huiwering aangestuur.
J.P. het ook Johann se instemming gewerf dat ek “Google Golgota” op my blog kan sit.
Wat Johann se gedig des te meer vir die Van Deventers spesiaal maak, is dat die voorleser op RSG Margot Luyt was, ‘n skoolmaat van Tokkie, wat by ons huwelik op 31 Desember 1966 Psalm 121 – “Ek slaan my oë op na die berge …” in die NG kerk Bultfontein voorgedra het.
Dankie, Johann de Lange, dankie Margot Luyt, dankie J.P. Nel.
Hoop elke leser van blog put inspirasie uit hierdie meesterlike stuk letterkundige vakmanskap:
GOOGLE GOLGOTA
Sondagmiddag in Kaapstad
en ek kry ‘n sms van Joan
uit Jerusalem: Ek loop nou
die via dolorosa.
Was vandag U sterfdag
sou ons U volg
op Twitter, mekaar sms
of vir laas U profiel
op Facebook besoek, spyt
ons het nie eerder
gevra dat U ons byvoeg
as vriend. Elke blogger
agter sy rekenaar
besig met sy Golgota-scoop.
Die pers sal kameras en
mikrofone in U gesig druk
vir ‘n sound bite, of advies
oor global warming, duisende
websites opgaan in U Naam, promosies,
boek- en filmregte. Advertensieflitse:
Hoe kry ons daardie kleed
weer witter as sneeu?
Regoor die aarde sal kort
oorsigte oor U lewe uitgesaai word,
onderbreek met terugflitse
na die smal stegies,
die keistene waaroor U moeisaam vorder,
nuushelikopters oorhoofs.
Joan, stuur my asb ‘n 8 megapixel foto,
‘n poskaart of brief in Sy handskrif,
of ‘n repie van Sy kleed, ek begeer
iets om op eBay te adverteer.
— Johann de Lange
(HvD)
___________________________________________________________________