Gesoek: Van Tonder, die donder, die hel. Dit kan die opskrif van vandag se aflewering wees.

Wie daardie vuige karakter is en waarom hy hier gesoek word, sal hopelik mettertyd duideliker word. Die soektog duur egter sedert ons wintervakansie in Sabiepark na ‘n paar glasies wyn in die geselskap van Gustav (oud-appelregter) en Frances Hoexter, saam met wie ons (cum kleinkinders) hier in Sabiepark se piekniekplek kuier.

Toon van den Heever, oud-joernalis (wat hom in my kamp plaas), en oud-regter (Gustav se kamp), kom om die een of ander rede in die gesprek ter sprake. Vervolgens die feit dat hy vir ‘n bekende Engelse limerick ‘n nogal plesierige Afrikaanse weergawe neergepen het.

Die oorspronklike Engels lui so:

There was an old lady from Pod
Who thought all children were made by God.
But it was’nt the Almighty who lifted her nightie,
It was Roger the lodger the sod.

Ons almal onthou in ‘n koor die treffende slotstrofe van Toon se poging. “Roger the lodger the sod” het verbeeldingryk in “Van Tonder die donder die hel” gemetamorfiseer. Ons krap egter kop oor die res. Ek bied aan om dit op te spoor, “omdat dit in een van my boekies verskyn”.

Maar ek blaai verniet deur Scoops en Skandes en Flaters en Kraters, waar ek vermoed om dit te vind. Tuis gekom in Melkbos visenteer ek my leggers met stories. Ek moet ‘n handgeskrewe weergawe van albei besit wat ek by Willem Wepener afgesmeek het nadat hy by ‘n direksievergadering daarmee vorendag gekom het.

Daardie waardevolle dokument is egter spoorloos. Ek vra Jaap Steyn. Hy beveel Daniel Hugo aan. Daniel se hy het dit een keer by Stephan Bouwer gehoor. Hoop nie dis saam met Stephan graf toe nie. Buurvrou Una Beukman beveel Philip de Vos aan. Nee, hy weet ook nie.

Ek stuur sms’e aan enkele vriende wat ek as waarskynlike bronne van kennis oor sulke sake identifiseer. Maar niks spring uit nie.

Toe gaan sit ek maar voor my rekenaar, kry my geheue in rat en improviseer so ‘n bietjie. Wat hier volg, is nie suiwer Toon van den Heever nie. Soos hulle in musiek sou se, is dit ‘n variasie op ‘n melodie van Toon van den Heever nadat Hennie van Deventer vir hom sekere vryhede daarmee veroorloof het.

Ekskuus, regter Toon, maar dis die beste wat ek kon uitrig:

‘n Onskuldige plaasnooi, Nonnatjie Nel,
Glo babas kom net op Hoer bevel.
Maar dit was nie die Almag
Wat haar laat verwag,
Dit was Van Tonder die donder die hel!

HvD

Deel dit: