Van 2005 af word ‘n spanfoto van die kleinkinders by die naambord van Tarlehoet geneem: eers van net die tweeling Jacob en Thomas en daarna met kleinboet Christopher by.

In die 25 jaar van ons verbintenis met Sabiepark het die naambord drie keer

verander.  Eerste eie bord was van swarthout, gemaak deur Dick Turpin van Melkbos, die tweede was ‘n variasie op dieselfde tema weens verwering en die derde, die huidige, is uit hardekool. Dit kom van Lukas van der Merwe, ‘n oud-Sabieparker.  Al drie pryk op van die  tradisionele foto’s.

Dit is nogal ‘n aardigheid om deur die Sabiepark-albums te blaai en aan die hand van hierdie foto’s te herleef hoe die drie manne hul babaskoene ontgroei en al hoe verder agtergelaat het. Elke foto in die galery lewer sy eie wonderlike herinneringe van boskuiers sonder weerga op.

Vandag is twee trotse eerstejaar-Maties en een in graad agt aan die Hoërskool Stellenberg in Bellville/Durbanville. Die jongste is langer as sy oupa. Hy is ‘n rugbyspeler en houtkapper van formaat.

Die gesin Claassens is vanoggend huis toe n  twee bedrywige weke met groot vure, wildritte, lang stoepkuiers en tegniese ondersteuning vir oupa en ouma aan verskeie fronte. Ek verwys o.m. na opgraderings en geduldige onderrig in die jongste tegnologie van die digitale era.

Dit was hartseer om die bussie tienuur met hulle te sien wegry lughawe toe. Dit sal vreemd wees om vanaand weer self ‘n vuurtjie te bou en aan te steek. Oorheerend is egter ‘n gevoel van dankbaarheid vir die spesiale bydrae tot ons viering van ‘n kwarteeu-verbintenis met ons geliefde bosplekkie.

Ons hoop maar daar sal vorentoe weer sulke kuiers wees.

Op die foto’s  hierby is ‘n saamgestelde een van voriges by die naambord en drie van 2023: een van die drie  alleen,   een saam met oupa en ouma en een van ons al sewe saam. Vir laasgenoemde is ‘n vroulike stapper in Wildevylaan aangetree.

 

Dit is seker nie nodig om aan te dui wie Brent en Marisa, hul ouers, is en wie ek en Tokkie nie. Kyk maar na die hare, om van oupa se immer-teenwoordige kierie nie te praat nie.

 

 

 

Deel dit: