Hoe lank al ly Afrikaans onder die aanslag van die taalverminkers wat jy oral – maar nêrens so geil nie as in die geledere van die “glansmense” en in voorportale (“foyers”) van sekere moderne “kuns”-verskynsels – aantref?Dat die wortels veel dieper lê as wat ekself en vele ander vermoed, lees ek raak in die volgende AG Visser-versie uit die middel-20’s, dus amper 100 jaar gelede:
‘N JONGE DAME (WESTELIKE PROVINSIE) NÁ 1803
Natuurlik is sy fyn beskaaf
Natuurlik is sy baie gaaf.
Die yarns wat ons ge-spun het!
“Onlangs het ons ‘n play ge-stage,”
Vertel sy: “Dit was so die rage
Dat dit three nights ge-run het.”
En dis regte, egte AG Visser hierdie (naspeurbaar in een van sy bundels), anders as ‘n onsmaaklike kamma-AG Visser vol toilet-“humor” wat op sosiale media in omloop is – skreeusnaaks vir sommige van ons broeders en susters.
Die brabbeltaal van daardie “fyn beskaafde dame” laat my besef hoe sleg ek misgetas het toe ek in 2003 in In Kamera (Protea) “ontdek” het: “Alle is mos nou (my kurivering) cool of stunning of gross. Ons woon shows by. Ons gaan gym toe. Ons het personal trainers. Ons gaan op ‘n diet. Ek freak sommer uit.”
Illustrasie: ‘n TT Cloete-vers waarmee ek my volmondig vereenselwig.