Fred Schnetlerwas baie soos sy geliefde 1941 Packard wat hy gerestoureer het, skryf Leo Kritzinger in die huldeblyk hieronder: betroubaar, eerlik, opreg, met net so ‘n sweempie aristokrasie in sy houding. Op die foto is die “twee Packards” saam.Vrydag op Malmesbury groet ons ons ou maat wat op die gebied van die motorjoernalistiek ‘n bakenverskuiwer in Afrikaans was, en ook met sy uitmuntende kennis van alle musiek en hope ander onderwerpe uitgeblink het. My huldeblyk aan ‘n besonderse mens is die plasing van hierdie besonderse – ontroerende – huldeblyk deur Leo, wat self ‘n vurige oumotor-entoesias is. (HvD)

FRED SCHNETLER – ‘n Huldeblyk

Deur Leo Kritzinger

Toe ek Donderdag vroegoggend my ateljee tuis binnestap om my e-posse na te gaan, huil daar ‘n yl, koue wind buite in die vroeë skemerdonker. Dit was asof die wind ‘n droewige tyding met hom saamdra. En dit was ook so: toe ek die eerste boodskap oopmaak, is dit van oud-Volksbladredakteur Hennie van Deventer, met die nuus dat daar besluit is om die toediening van Fred se medikasie – na ‘n maandelange siekbed in intensiewe sorg – te staak. Die hoop op ‘n sinvolle herstel was net nie meer realisties nie. En Vrydagoggend om tien oor vier het daardie groot Suid-Afrikaanse motorgees sy enjin vir oulaas afgeskakel.

Ons was bevoorreg om Fred Schnetler as lid van die Early Ford Car Club vir die laaste klompie jare te kon hê. Toe Fred en sy vrou, Marie, van Bloemfontein na Malmesbury verhuis het, het hy my geskakel en navraag gedoen oor lidmaatskap van ‘n oumotorklub. Vanselfsprekend het ek die EFCC aanbeveel. Fred was toe al nie gesond nie, en moes heeltyd gekoppel bly aan ‘n draagbare suurstofmasjien. Dit het egter nie sy geesdrif vir die oumotor-beweging gedemp nie. Jy kon sweer die man het 40-graad motorolie in sy bloedstroom gehad!

Die kuiertjies in sy klein, maar netjies-ingerigte studeerkamer sal my altyd bybly. Omdat dit vir hom moeillik was om rond te ry, was Fred maar al te bly as ‘n mede-motorgeesdriftige kom inloer het vir ‘n koppie koffie en ‘n soetigheidjie, en daar oor vuurwaens gesels kon word. As hy eers aan die praat geraak het, het sy oë gevonkel en kon jy maar terugsit en luister: die man was ‘n wandelende motorensiklopedie van formaat. Fred se kennis oor oumotors sal sekerlik nie in ons leeftyd oortref word nie. Hy’t nie net oor tegniese kennis beskik nie – maar kon staaltjie ná staaltjie uitryg oor die manne agter die motors: Henry Ford, Ransom E. Olds, Louis Chevrolet, noem maar op.

Een van die laaste gunste wat hy my bewys het (sy siekte ten spyt), was om my boek oor Ford-advertensies (Daar’s ‘n Ford in jou Verlede!) te proeflees en vir historiese korrektheid na te gaan. Fred het my op ‘n paar punte latere verleentheid gespaar. Ek het besluit om die boek aan sy nagedagtenis op te dra.

Fred het sy huiswerk deeglik gedoen. Sy boekrakke het gekreun onder die gewig van honderde boeke oor motors en hul skeppers – van die mees obskure fabrikate tot die mees algemene. Sy versameling het die volledige Automobile Quarterly-reeks ingesluit – vanaf die eerste uitgawe was hy intekenaar. Fred het verlede jaar sy unieke boekery aan die Franschhoek Motormuseum geskenk.

Motors en boeke oor motors was uiteraard Fred se passie. Sy groot voorliefde vir karre het reeds in 1939 begin toe sy ouers hom ‘n stel Amerikaanse Tootsietoy modelmotortjies vir sy vyfde verjaardag gegee het. Van toe af was hy verslaaf aan motorkarre.

Baie sal egter verbaas staan om te hoor dat Fred nie sy loopbaan in die motorbedryf begin het nie, maar as ‘n interne ouditeur by Phil Morkel in Bloemfontein. Maar droë syferwerk het nie sy verbeelding aangegryp nie. In sy vrye tyd skryf hy ‘n werk oor die motor (Die Motor van Cugno tot Wankel) en lê die manuskrip aan Pieter Spaarwater, destyds motorredakteur van Huisgenoot, voor. Pieter, op sy beurt, het die manuskrip aan ‘n uitgewer gerstuur, maar soos dit maar gaan, is dit van die hand gewys. Pieter het egter Fred se deeglike kennis oor taalgebruik en motorsake raakgesien, en toe Huisgenoot ‘n artikel oor Rolls Royce motors wou doen, is die opdrag aan Fred gegee. Sy loopbaan as motorjoernalis het sy eerste hupstoot gekry.

Later het Die Volksblad van Bloemfontein ‘n redakteur vir hul sake- en motorbylae gesoek. Fred het aansoek gedoen en is in 1974 in die pos aangestel. Volgens Hennie van Deventer was Fred ‘n meester agter die tikmasjien en kon hy sinvolle kopie skryf oor feitlik enige onderwerp. Hy’t nie verniet op Edwill van Aarde se program as Flinkdinker uitgeblink nie. Sy gebruik van Engels was onberispelik, terwyl sy kennis van klassieke en populêre musiek onverbeterlik was. En hy kon blykbaar afval voorsit soos ‘n wafferse cordon bleu sjef.

Afgesien van die legio artikels van hom wat in dagblaaie en tydskrifte verskyn het, was Fred ook outeur van ‘n klompie landmerk-boeke oor die motorbedryf. Van hom het verskyn: Motors en hul Makers (1975), Ford: Gister, Vandag en More (1978), en A Century of Cars, sekerlik sy magnum opus, wat in 1997 verskyn het. Daarna het hy nog vir Mercedes Benz SA ‘n hoë-gehalte spogboek die lig laat sien. Fred se boeke sal voortleef as monumente van sy veelsydige kennis van die Suid-Afrikaanse motorwêreld en motors in die algemeen. Sy aansien in motorkringe het ook oor ons grense heen gestrek toe hy in 1996 deur die gesiene Antique Automobile Club of America gevra is om as Packard-beoordelaar op te tree, en weer toe hy as lid van ‘n paneel aangestel is om die Internasionale Motor van die Jaar in 1999 te kies.

Fred het drie motors in sy leeftyd gerestoureer – ‘n 1958 Lancia Appia, ‘n 1935 Adler Diplomat, en sy geliefde 1941 Packard sesslinder-sedan wat sedert 1979 in sy besit was. Ek onthou nog toe Fred met meer as net ‘n tikkie hartseer vir my laat weet het dat hy ná 25 jaar nie langer die Packard kon behartig nie, en dat ek moes rondkyk vir ‘n koper vir die motor. Onwillig het ek aan sy versoek voldoen, en ek was teenwoordig by die bittersoet geleentheid toe hy die Packard se sleutels aan die nuwe eienaar oorhandig het. Terloops, die motor is tans deel van die Rupert-versameling wat uitgestal word by die motormuseum net buite Franschhoek.

Fred was baie soos ‘n Packard – betroubaar, eerlik en opreg, met net so ‘n sweempie aristokrasie in sy houding. ‘n Mens met goeie, outydse waardes op wie jy kon staatmaak en ‘n ware gentleman. Hy laat ‘n groot leemte in ons oumotor-geledere, maar wees van een ding verseker: die hartklop van Fred se enjin sal nog vir ‘n baie lang tyd gehoor en gevoel word.

Naskrif: Op 5 Mei 2007 het ‘n stuk oor Fred op my webjoernaal (blog) verskyn na ‘n besoek aan Malmesbury. Omdaardie afleweringte lees,kliek telkens op “next” totdat jy by webjoernaal 31 kom (HvD)

Deel dit: