Kyk hoe reis die boedels al weer. Dis die beskrywing van my vriend Pierre le Roux van Mosselbaai van die langslewende weduwees wat so fluks met hul splinternuwe koffers aantree om die wye wereld te gaan verken.

Deesdae is oumens-reise egter nie beperk tot weduwees wat per boedel reis nie; ook egpare wat nog albei flink in die lewe is ploeg al hoe meer deur hul kinders se erfporsies vir ‘n verskeidenheid reis-doeleindes.

Sogenaamde “mid-weeks” loop binnelandse vakansiestemmmings oor van seniors met gryskoppe, stram ledemate, dik brille en ‘n skynbaar onuitputlike voorraad punte van vakansieklubs. Hulle bestee as’t ware hul “kinders se geld” goedsmoeds op hul eie plesier. Buitelandse vlugte is propvol oupas en oumas wat vir die kleinkinders in verre lande gaan kuier. Buite-seisoense bustoere lyk soos reisende ouetehuise.

Dat die Groot Reislus wat my generasie se oumense beetgepak het, boedels soms kwaai laat krimp, is gemene saak. Sommige kennisse leef tuis maar skraps om hul omswerwinge te kan bekostig. Hoe ook al, dit lyk of wyd ‘n opvatting posgevat het dat jy met jou geld kan maak wat jy wil, bie-dem die kinders. Hulle moet maar self opsnork.

Ek het ‘n Kaapse vriend wat nie doekies omdraai nie – as sy kinders iets by hom erf, moet ons maar weet dat sy beplanning skeefgeloop het!

In die Wildtuin het ek agter ‘n weelderige woonwamotor stilgehou waarin ‘n gryse dame staan en pannekoek bak het. Op die buffer was ‘n plakker: “We’re enjoying our children’s inheritance!”

Teen mede-seniors se ge-jeuk om rond te loop, het ek nie beswaar nie. Laat hulle reis soos hulle wil, waarmee en waarheen hulle ook al lus het. Laat hul boedels maar bloei en hul kinders se erfgeldjies krimp. Elkeen se begroting is ‘n private aangeleentheid. .

My frustrasie is egter dat jy so sukkel om vriende by die huis te kry. Iemand verjaar byvoorbeeld en jy wil hom of haar gelukwens. Jy bel en jy bel en jy bel. Dan kry jy net ‘n telefoon wat minute lank trieng-trieng-trieng-trieng. Soms kry jy darem ‘n stemboodskap: “Ons is nie nou beskikbaar nie….” Ander kere – wanneer die telefoon se eienaar uit vergeetagtigheid of onbeholpenheid die verkeerde knoppie gedruk het – kry jy ‘n fakslyn. Eina!

Jy moet leer om seisoene van afwesigheid te herken. In sulke tye is dit raadsaam om nie jou bloeddruk aan onnodige druk bloot te stel met eindelose mislukte oproepe nie.

In die winter is daar ‘n oumensverskuiwing wildtuine toe – veral wanneer die Krugerpark se konsessietyd vir bo-sestigs aanbreek. Maak gerus in Augustus ‘n opname van rondawel tot rondawel in gewilde kampe soos Olifants en Satara. Dis nie jongmense wat saans ‘n vuurtjie aansteek nie, pappa.

In die somer oorstroom die oues weer die kusoorde en stap die strande vol met hul kieries en groot hoede.

Tye wanneer vliegtuigkaartjies vanwee ‘n laer aanvraag ietwat goedkoper is, lees die buitelandse passasierslyste soms omtrent soos ‘n geriatriese sensus. Kleinkinders is immers – soos John Vorster destyds gese het – God se geskenk aan oumense, en die kinders werk deesdae mos van die Bahamas af tot in Doebai.

Dankie vir die vriende (bra min) wat so bedagsaam is om ‘n e-pos-adres te verskaf waar jy hulle by hul swerwer-kinders kan opspoor; en ook vir diegene wat hul selfone laat programmeer om goed bedoelde oproepies te ontvang van agtergeblewe vriende wat om watter redes ook al gewoonlik maar met Jan Tuisbly se karretjie ry.

En duime af vir daardies wat nie net geheimsinnig vir lang tye wegraak nie, maar dan skielik opdaag met ‘n gulhartige “hallo” en ‘n pak vol foto’s wat jy moet deurworstel. Dis nag! (HvD)

Deel dit: