Om ons swanesang ter see en eerste ervarings op ‘n vaart in een asem te noem, klink na ‘n contradiction in termino. Dit is egter nie.Op ons vaart na Walvisbaai op die Sinfonia was die digte mis vir ons inderdaad nuut. Nooit voorheen op enige vaart is twee nagte lank deur sulke digte mis moes beur nie. Sig feitlik nul. Die bas skeepshoring het op die minuut uit ‘n growwe, diep keel waarskuwings uitgeblêr: Pas op voor, hier kom ‘n lummel met 11 dekke en plek vir meer as 2 000 passasiers. Vergeet van slaap in sulke omstandighede. Nessum dorma!
Terug in die Kaap Vrydagoggend was die mis so dig dat die hawe gesluit moes word. Twee uur lank moes die passasiers soos uile op ‘n kluit sit en wag om aan wal te gaan.
Nog ‘n eerste was ‘n skip met soveel ruimte om te beweeg. Met net 800 passasiers aan boord was selfs die hysbakke stil. Dikwels was jy die enigste gebruiker. By die buffet-tafels op dek 11 was die gewone gedrang vreemd afwesig. Aandetes was nie in die gewone twee sessies nie. Enige tyd tussen 18:30 en 20:30 kon jy gaan aansit.Op die Sinfonia se eerste vaart in SA waters in November 2009 was ons en ons eerste kleinkinders, die tweeling Jacob en Thomas Claassens, van die eerste passasiers wat in Kaapstad aan boord gegaan het. Hulle was toe vier. In 20014 was ons op wat toe die laaste vaart van die skip, in SA waters sou wees weer aan boord om afskeid te neem.
Maar die Sinfonia het weer na Suid-Afrika gekom: ‘n groter en luukser skip nadat ‘n nuwe middelstuk – ook met heerlike balkonkajuite – ingevoeg is. Vir ons was die vaart in balkonkajuit 9175 na Walvisbaai dus ‘n tweede afskeid van die sierlike skip. Maar nou was dit waarlik ‘n “Time to say goodbye” soos Andrea Bocelli en Sarah Brightman so gevoelvol gesing het elke keer as ons uit ‘n hawe vaar.
Elke ding het sy tyd en plek, soos die Prediker ons leer. Vir my en Tokkie was vaar ‘n vreugde en is talryke herinnerings oor dekades versamel – ook op vaarte na Sydney en Venesië en deur die Suezkanaal op skepe soos die ou Pendennis Castle, die Constellation, die Oceanos, die Queen Mary II – wat ‘n wonderlike skip! – die Sinfonia, die Opera en die Musica. Die drie vaarte op die Sinfonia was die meeste op een skip. Op die Opera was ons twee keer, die ander net een keer elk.Vir al die skepe, bestaande en nie meer bestaande, hul kapteins en hul diensvaardige bemannings sê ons: Arrivederci en baie dankie vir die groot bederf.
Foto’s: Ons laaste vaart. Saam met ons is ons kinders Johan en Mariza van George.