Elke keer as spotprenttekenaar Charl Marais stiptelik om 11:00 by my kantoor by Die Volksblad inwals vir die spotprentkonferensie, het ek half verwag dat hy ’n bamboeskierie en paar-nommers-te-klein hardebolhoedjie sou uitpluk en ’n paar danspassies uitvoer. Nes sy genant Charlie Chaplin.
Charl Marais met sy tandeborsel-snorretjie en eenderse liggaamsbou (skraal van lyf en self niks langer as Chaplin se 1,65 m nie) was ‘n amperse ewebeeld. Onse Charl het selwers blymoedigheid uitgestraal, al was hy soms melancholies. Hy was op 70 nog kreatief (party dae meer as ander). Hy het, les bes, ook 11 kinders verwek: sewe seuns en vier dogters, nes die nimlike Hollywoodster; maar in sy geval almal by een vrou, Hester, anders as sy beroemde genant.
Lekker gewees om vanoggend uit die pen van oud-redakteur Gert Coetzee in Die Burger se naweekblaaie, “By”, van die oud-kollega te lees, en ook van die bokse met ou spotprente wat in ‘n kluis ontdek is. Ek dink vir al Charl se oud-kollegas en vir sy uitgebreide groep nasate sou dit heuglike leesstof gewees het.
Van nasate gepraat: Sy kroos van elf was pa Charl se trots. Die sewe broers Marais het almal – de leste een – provinsiale kleure in stoei verwerf en almal in pa Charl se voetspore as geheelonthouers gevolg. Sy seuns se prestasies op die mat het hom so begeester dat hy met die stoeibesigheid weer in hul voetspore gevolg het (darem net op klubvlak). Self het hy nooit sy mond aan selfs net ’n biertjie gesit nie. Die wegbly van drank en sy liefde vir grappies is “seker waarom ek in my hele loopbaan nie ’n enkele dag weens siekte by die huis gebly het nie.”
Heelparty van Charl se goedige grappies had die spannetjie van 11 kinders (en 18 kleinkinders) as onderwerp. Hy moet gereeld gaan tel of almal nog daar is, was een van sy kwinkslae. As iemand vra hoekom die egpaar nie 12 het nie, was sy antwoord gereed: “Die buurman het weggetrek.”
Aweregse humorsin ook aan hom gehad, die Charl.