
Ons en ons Fillipynse hoofkelner Petros by ‘n gala-aandete in die Brittania-restaurant.
Dis nie dat die lewe aan land vir hom onsmaaklik is nie. Die lewe ter see is net beter. Ek wil dié woorde van sir Francis Drake so verbuig: Dis nie dat lewe op ander skepe vir my onsmaaklik is nie. Die lewe op die Queen Mary 2 is net beter.
‘n Hardnekkige maaggogga het die lewe vir talle passasiers ‘n dag tot drie lank versuur. Die geluid van toilette wat spoel was in ‘n stadium in ons kontrei op dek 4 soos ‘n simfonie van saam-swaarkry. Selfs dit kon die vreugde van die herbesoek nie demp nie.
Ná die vaart van agt nagte na Mauritius bly die bewondering, lof en respek vir die klassieke skip op dieselfde hoë vlak as met die kennismaking tien jaar gelede op ‘n vaart na Sydney. Die QM 2 is enig. Vir styl, deftigheid, diens en die veelsydige vreugdes van sy aanbod aan die gaste in sy sowat 2 000 “staterooms” gee ek Cunard se weelderige vlagskip so aan volpunte as dêmmit aan vloek is.

Ons goue kentekens.
Oorheersend dalk was die vreugde van hierdie jongste en laaste vaart die hertontdekking van al die goue gunstelingplekke op die 14 dekke: van ons ou kajuit op dek 6 en “ons” glaskas-hysbak na die uitkykplek langs die brug tot al die manjifieke sitkamers, eetkamers, teaters, balsale – ook die reuse-biblioteek en planetarium – wat die QM2 in ‘n klas van haar eie plaas.
Gala-etes van uitvoerige watertand-spyskaarte in die swierige, dubbelvlak Brittania-restaurant, “high teas” in die Queen’s Room, konserte in die Royal Theatre, skemerdrankies in intieme sitkamers of die immer gewilde Golden Lion Pub, rustige rondsit op die netjiese dekstoele met hul geborduurde blou kussings – daarmee het ons ons dae deurgebring.

Die herskepte Carinthia Lounge.
Uit ‘n vol program met “insights” (kennerslesings) oor Mandela, krokodille , argitektuur, duikbote, ‘n verskeidenheid kulture, asook hope musiekuitvoerings – harp, strykers, flamenco-kitaar, klavier – kon ons kies en keur. Opnuut ‘n aardigheid gewees om in een middag in te pas: ‘n konsert deur ‘n flamenco-virtuoos, ‘n strelende harpuitvoering en die energieke snarespel van ‘n trio jong strykers uit Oekraïene.
Wat tegelyk effens treurig en opwindend nuut was, is die herskepping sedert ons vorige reis van ons geliefkoosde rustige Winter Garden met sy voëlgekwetter tot die dinamiese byenes van ‘n Carinthia Lounge waar gedurig dinge soos vasvrakompetisies en klavieruitvoerings aan die gang is. Smaaklike ligte happies word vir ‘n alternatiewe ontbyt of middagete aangebied en die mense staan stroom soontoe.

‘n Kajuit soos 4186.
‘n Ander sterk element van nuutheid is in die kunswerke teen die mure. Die art deco-karakter van die goue era van die 20’s en talle historiese foto’s uit die lewe van die skip en sy passasiers – vele glansrykes! – is grootliks behou. Treffende moderne werke is bygevoeg. Nuwe kleur en ure se kykplesier word so verleen.
Vir my en Tokkie was nie net die tradisionele bottel yskoue Franse vonkelwyn in kajuit – “stateroom”! – 4186 se yskassie uit ‘n persoonlike hoek spesiaal nie, maar ook die oorhandiging van twee diepblou fluweelsakkies met ons goue kenketekens vir die bereiking van senior lidmaatskap van Cunard se gesogte Word Club.
Op die QM2 klink ek graag in my gedagtes weer die glasie komplimentêre sjampanje waarmee die kaptein gaste aan boord verwelkom en beleef ek weer die een goue oomblik op die ander. Daarvan sal ek in die volgende dae (weke?) meer vertel – en wys!