
Pas op die rakke in boekwinkels is ‘n nuwe Proteatitel, “Hierdie land”, waarin meer as 50 skrywers vertel wat vir hulle uniek en kosbaar is aan hierdie land; wat hulle trots maak, laat verlang en laat lag.
Dat ek vir my bydrae ‘n bosstorie vertel, sal niemand wat my ken seker uitermate verras nie. Trouens, my storie kom uit Sabiepark, hier waar ek en Tokkie nou uitspan om die kwarteeufees van ons verbintenis met hierdie aardse paradys neffens die Krugerhek van die Wildtuin te vier.
Ek skryf oor kameelperde – nie net oor die opstapelende vreugdes wat daardie edeldiere (edelbure) ons in 25 jaar besorg het en steeds besorg nie, maar ook oor die heengaan van enetjie wat vir my diep treurig was.
So verwoord ek my emosies oor daardie verlies: “Jy, mensekind, was vreemd ontroer deur die toneel, asof een van jou eie naastes jou ontval het. Waarom? Wilde diere word immers gebore, leef ’n ruk; word dan doodgemaak of opgevreet. Dit is die wet van die natuur. Maar die aristokratiese kameelperd se heengaan is iets anders.”
Protea is ook die uitgewer van my jongste Sabieparkboek, “Bure van nature”, wat in 2021 sy buiging gemaak het. Dankie, Protea, en die redakteur van “Hierdie land”, Joan-Mari Barendse, vir die geleentheid om nou weer saam met al die ander medewerkers in “Hierdie land” iets van die hart te kry oor wat vir my baie spesiaal van ons eie stukkie aarde is: sy onvergelyklike diereweelde.
Op die foto is ‘n Sabieparkse mamma-langnek en dae-oud-langnekkie wat selwers ook in die pragboek figureer. Kyk net hoe fier kyk die trotse moeder vir die kamera.