Elke mense het sy eie voorkeure. Daarom ‘n rits ekskuries by elke bestemming op ‘n toer.
Vir my beteken Walvisbaai die Namib. Vir die dag wanneer jou boot in die hawe is, soek ek duine, duine, duine. Van die kuspad tussen Walvisbaai en Swakopmund kan ek kwalik genoeg kry: met die stuk merkwaardige teerpad wat as’t ware die oseaan op sy plek hou en die woestyn op syne. Lekker om te kameelsafari’s te sien en die profiele van vierwielfietsers bo die duine te sien uitsteek. Die klomp rykmansvakansiehuise by die modern Long Beach brei geweldig uit.
Ook op Swakop verrys paleise aan die strandfront, maar die bekoorlikste bly vir die besoeker die Duitse oudorp met sy Europese argitektuur soos ‘n skermgreep van ‘n verre verlede. Wat jy absoluut nie daar wil doen nie, is om 40 minute in ‘n verkeerde eetplek vir vriende te sit en wag weens verwarring by jou gids en gebrek aan selfoonverbinding weens verskeie redes.
Helaas, dit gebeur toe. Matteus, ons aangename gids met ‘n diep stem en ‘n mooi Afrikaanse uitspraak – hy is die ou saam met my op een foto  – het taamlik oes gevoel. Maar toe verged hy darem hy deur Walvisbaai vir ons te wys soos ons die hawedorp nie voorheen in al sy fasette gesien het nie. Duin Sewe, die kilometerslange vleilande met swerms elegante flaminke en spierwit southope by die myne op pad Sandwich Harbour toe was ’n belewenis.
Ons was net betyds by die MSC Splendida waar ons om 14:30 aan boord moes wees. Ongelukkig was almal nie so voorbeeldig stiptelik nie.
Foto’s: Sommer so ‘n kontrei-verskeidenheidjie.
Deel dit: