
Die moontlike wanindruk dat die Van Deventers slegs vir die mevrou se matriek-plus-60-reünie Vrystaat toe is – ‘n vinnige heen-en- weertjie van 2 342 kilometer – moet uit die weg geruim word. ‘n Tweede reünie was een van die uwe: ‘n Volksblad-plus-30 kan ‘n mens dit noem.
In April 1992 het ek my kantoordeur in Voortrekkerstraat, Bloemfontein, vir oulaas agter my toegetrek. Maandag was ek bevooreg om in die geselskap van gewaardeerde kollegas die blad se nuwe tuiste in Westdene te besoek, asook die waardige Volksblad-kamer by NALN (Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum) waar waardevolle Volksblad-stukke van historiese belang ‘n tuiste gevind het.
Hoe heuglik en sentimenteel was dit nie vir ou man nie om op sy ou stoel agter die lessenaar in te skuif waar hy soveel jare gearbei het, omring deur boekrakke, banke en ander meubels uit sy kantoor, asook allerlei gedenkwaardighede soos spesiale uitgawes, kosbare foto’s (onder meer van alle oud-redakteurs) en spotprente.
Die statige lessenaar van Birmaanse kiaat dateer uit die era van dr. AJR van Rhyn (redakteur van 1923 tot 1948). In my era (1980 – 1992) is dit tot sy huidige glorie vernuwe. Die lessenaar is deel van wyle kollega Jan Scholtz, ‘n meestervakman, se monumente by Volksblad.
Die meubels is swaar, donker sierade uit stinkhout, swarthout en eikehout. Die boekrakke het loodglasdeure. Die meeste stukke is onder toesig van Jan met sy hartstog vir hout of deur hom persoonlik gerestoureer met die omvattende opgradering van die ou gebou in 1986. Dié behoort nou aan die Rising Sun-groep en lyk vir my bra bedremmeld.
Wat ook by NALN staanplek gekry het, is die oorpronklike Volksblad-gebou se karaktervolle dubbel-voordeur met sy delikate bolig, ‘n onvervangbare meesterstuk.
Die gashere Maandag was Wyno Simes en Annelien Diederichs van NALN. Die Volksblad-span het bestaan uit ekself, twee van my hoofredaksielede, Piet Theron en Sarel Venter, die laaste redakteur van die gedrukte koerant, Gert Coetzee, en die huidige man in die saal, Dirk Kok. Mevv. Van Deventer, Theron en Venter was ook teenwoordig.
Kameras het natuurlik vir die vale geklik soos die verskillende konfigurasies – HvD en hoofredaksielede , drie redakteurs, ens. ens – agter die lessenaar stelling ingeneem het. Hoop maar die trane van aandoening wat wou-wou loop, laat nie my oë op die foto’s onnatuurlik blink nie!
Die foto’s hierby is van die volledige Volksblad-span op die trappies van NALN se sierlike sandsteengebou in Pres. Brandstraat, van my en kollegas Piet Theron en Sarel Venter, twee hoofredaksielede uit my era, van die drie redakteurs, Van Deventer, Coetzee en Kok, en van my agter ”my” lessenaar met die Hennie van Deventer-trofee vir algemene redaksionele voortreflikheid in my hand. (Piet Theron was, terloops, in 1980 die eerste wenner daarvan.)
‘n Insiggewende besoek daarna aan die nuwe Volksblad-tuiste het paaie laat kruis met ou kollegas soos Charles Smith en Marietjie Gericke. Al is die splinternuwe opset dramaties anders as in die vervloë ou dae het die nostalgie dik geloop. Die drukkersink in die are het gedruis en gebruis.
‘n Lewenservaring van onmeetlike betekenis was dit vir hierdie 82-jarige koerant-verknogte. Ek is diep-diep dankbaar teenoor almal wat die onuitwisbare herinnering aan my wonderlike koerantdae – wonderlike Volksblad-dae veral – help moontlik maak het.
*****