Antjie Krog se biografiese roman oor haar en haar kranige ma, Dot Serfontein, geniet wye aandag. Ek lees gretig die resensies, onderhoude en wat nog.
As koerantman het ek ’n kwelling. Hopelik is my indruk verkeerd en sal ek ekskuus moet vra, maar ek kom nie weg van die gevoel dat Die Volksblad se rol in Serfontein se skitterende loopbaan nie tot sy reg kom nie.
Serfontein was immers vroueredaktrise in die 50’s. Haar spore was nog vars toe ek einde 1958 die eerste keer vakansiewerk daar kom doen. Sy het in 1949 ingeval.
Interessant genoeg, het ook Krog self ‘n vlugtige Volksblad-verbintenis. Hier in die laat 60’s, vroeg 70’s was sy ‘n vakansiewerker. Ek was toe nuusredakteur. Hoe goed onthou ek nie die knap Kovsie nie; selfs die presiese lessenaar waar sy gesit het.
My betoog is dat Die Volksblad tog moet bygedra het om Serfontein se gespierde skryfstyl te slyp – dalk meer as ander publikasies wat wel genoem word.
Gronde vir my aanspraak oor ‘n Volksblad-bydrae gaan haal ek in kollega Herman le Roux se Litnet-lys van sowat 90 redaksielede wat tussen hulle meer as 1 000 boeke geskryf het. Van die vroegste was skrywer-reuse soos CM van den Heever (redaksielid in 1925) – en naas Serfontein – later ook Piet Meiring (nie-fiksie), Pieter W Grobbelaar (jeuglektuur) en Wille Martin, fiksie-skrywer soos min (met iets soos 220 boeke).
Later het gekom die digter Pirow Bekker, die taalghoeroe Jaap Steyn en Wilhelm Jordaan, vrugbare rubriekskrywer tot vandag.
Op die oomblik woeker Deon Meyer, wie se spanningsromans al in byna dertig tale vertaal is, Chris Karsten en Rudie van Rensburg. Hulle was saam in de redaksie in die 80’s – ook saam met Johan van Wyk van “Stop van Myne”. En natuurlik is daar die verbeeldingryke Jaco Jacobs, ‘n latere model, wat kinderboeke uitryg.
Verskeie van die skrywers is hoogs bekroond met van Afrikaanse se gesogste pryse. ‘n Trofeekas sou kreun. Natuurlike skryftalent is ongetwyfeld die basis, maar as ‘n koerant oor soveel jare konstant soveel skrywers kon oplewer – en hope goeies bly ongenoem – is iets klaarblyklik in daardie redaksies reg gedoen. So glo ek maar.
Deel dit: