Is die bleddie kar nog nie verkoop nie? Jou advertensiebreek raak darem nou ellendig lank. So kapittel ‘n vriend my.
Moet toegee, die intermezzo op die HvD-blog is ietwat uitgerek. Ek wou al lankal uitkom by die Volksblad-okkasie in Sabiepark. Op my skedule is ook joernale oor, soos dit in die Bybel gestel word, my plek wat my nie meer ken nie, ‘n paar geheimpies oor die Kruger-wildtuin, begrafnisse wat ontaard, die verknoeiing van Afrikaans deur ons eie mense en ‘n paar ander dinge.
Maar ek wou darem graag ‘n goeie kar (teen ‘n goeie prys) aan ‘n goeie eienaar verkoop. Blykbaar gaan die HvD-blog nie daardie ambisie verwesenlik nie.
Ewenwel, vier lede van die hoofredaksie van Die Volksblad in die jare tagtig het toe in Augustus in Sabiepark saamgetrek vir die sogenaamde “Tarlehoet-bosberaadâ€. Ek en Tokkie was vanselfsprekend daar. Paul en Cora Marais het van Hartenbos gekom, Herman en Rina le Roux van die Rand en Sarel en Liesbeth Venter asook Piet en Petro Theron van Bloemfontein. (Kyk die spanfoto hierbo.)
Aan die Therons se koms hang n stertjie. Hul Renault Megane het in Pretoria gelol. Toe koop Piet sommer vir hom ‘n Renault Espace. Mensig, is dit nie nou ‘n lekker ruim Wildtuinmotor nie. Hy is daardie paar dae deeglik ingewy.
Oor die saamtrek self het Cora haar soos volg uitgelaat: “Ons is veilig tuis en dink met groot lekkerte terug aan ons saamwees in die bos. Ons ken mekaar al soveel jare maar ek ontdek nog steeds eienskappe wat elkeen van julle se unieke andersheid beklemtoon. Jare van geluk en trane het elkeen van ons laat groei, oordele versag en begrip, deernis en liefde vir mekaar geleer.â€
Dis nou mooi gestel, want daardie “unieke andersheid†sluit natuurlik ook ‘n paar geite in, wat nie met die jare minder geword het nie. Trouens, dit raak nogal mededingend as verskillende mense presies dieselfde gebeurtenis taamlik verskillend onthou!
Gelukkig bly ingebore talente ongeskonde. Piet Theron is steeds n braaier van formaat. Ons het hom ingespan.
Soos van joernaliste verwag kon word, is skrywery hoog op die meeste se agenda. Sarel Venter het pas ‘n boek oor die Afrikanerklub van Bloemfontein se 50 jaar voltooi – ‘n gedugte stuk werk. Herman le Roux het weer sy memoires in ‘n private bundel op skrif gestel. Sonder dat die twee van mekaar bewus was, is hul titels presies eenders: ‘n Plek in die son. Vir die twee kollegas met die boeke met die eenderse titels het die kameras geflits.
Herman het ook vir ‘n ander besonderse foto gesorg. Wetend dat bobbejane lastig kan raak en hiënas in die winter taamlike skade aan motors se syspieëltjies aangerig het , het hy opgedaag met sakkies wat Rina spesiaal uit oorskietlap gemaak het om die spieëls veilig in toe te wikkel en ‘n enorme plastiekslang wat hy op die voorruit van sy Mercedes opgekrul het. Nie ‘n man wat kanse waag nie.
Paul het ‘n splinternuwe stokperdjie wat ver van die joernalistiek verwyder is. Hy doen klipwerk. Ons het nou ‘n sitkamerlamp wat van Hartenbos kom –
deftig en kleurryk. Dis net ‘n studie om agter te kom watter klip watter klip is!
Ongelukkig had ons ‘n ongenooide gas wat ons spoed ietwat gebreek het: ‘n bose maagvirus. Die Marais’s het dit glo heel moontlik op die vlug Johannesburg toe opgetel. Die virus het Paul eerste beetgekry en hom liters vog laat verloor in Sabiepark. Dit het gelei tot lae bloeddruk. Hy sê dat hy gevoel het soos ‘n marionet waarvan sy toutjies alles losgeknip is. Geen ledemaat wou met die ander saamwerk nie
Terug in Johannesburg, beland Paul en Cora toe albei in die daghospitaal. Soos sy dit stel: haar koors was deur die dak en Paul se bloeddruk deur die vloer (95/ 65). Hulle is vir ‘n paar agtereenvolgende dae gespuit met kortisoon en antibiotika en is ge-â€nebuliseâ€.
Maar omtrent die hele boel was die een of ander tyd onwel. Die Saterdagaand was die uwe so wankelrig dat hy gaan inkruip het toe die Springbokke Engeland so met 36 – 0 opgedons het. (Hoop hulle kry dit Saterdagaand weer reg!)
Paul sê terloops Cora het vinniger as hy herstel, moontlik omdat sy jonger en dalk taaier as hy is, of dalk omdat sy in Johannesburg ‘n betrer dokter getref het as hy. Hulle het ‘n dr. McAtamney aan haar toegewys, terwyl hy dr Moodley gekry het. Sy het binne-aarse inspuitings en druppe gekry, terwyl hy met pille en wasems tevrede moes wees
Uiteindelik was die “bosberaad†‘n sukses, meen ek. Sarel en Liesbeth se rustigheid en kalmte, Herman se ondempbare geesdrif vir sy vriende en voëls, Rina se onoortreflike beskuit, die Therons se bakke biltong (en Petro se vrolike laggie ondanks haar eie en hul seun Pieta se gesondheidsprobleme), Paul en Cora se rateltaaie blymoedigheid – roer alles saam, en die resep is reg.
Dankie, Philip (wat doerie tyd nuusredakteur was) en Nance van Rensburg, vir die leen van twee slaapkamers in Innibos. En o, geluk aan Olive Riley van Australie wat vandag haar 108 ste verjaardag vier. Sy is glo die wêreld se oudste blogger. Heidenhert!
HvD
