Die man wat in die 60’s by my respek gekweek het – eintlik by my ingedril het! – vir korrekte koerant-Afrikaans was die eerste taalredakteur van die destydse Naspers (nou Media24), dr. Ludwig Wybren (Louis) Hiemstra – vantevore ‘n assistent-redakteur van Die Volksblad.

Hiemstra, na buite miskien die beste bekend as woordeboekman, was een van die bekendste Afrikaanse taalkundiges. Van hom word gesê dat “Vra vir Hiemstra” in sy tyd so alledaags was soos “Google dit” vandag.

Sy gemerkte koerante het dikwels, as die taalversorging nie op peil was nie, soos ‘n bloedbad gelyk as dit ons bereik. Ons subredakteurs was daarvoor op ons hoede. Vir sy rooi pen was daar allemintige ontsag.

Hiemstra was nie ‘n man wat aan sy eie insigte getwyfel het nie. As jong joernalissie het hy dit glo selfs gewaag om korreksies in ‘n hoofartikel van die eerste redakteur van Die Burger, dr. D.F. Malan, aan te bring. Die volgende oggend was hy op die rooi tapyt. Sy verduideliking was skynbaar voldoende, want geen haan het daarna gekraai nie.

Oor hom en ander taalredakteurs skryf ek ‘n hoofstuk in Wag-‘n-bietjie, my boek wat pas deur Naledi gepubliseer is.  Ek vra dat hulle in hierdie feesjaar van Afrikaans ook as taalhelde geëer word.

Die naam Hiemstra duik ook in ‘n ander verband in my boek op. Publikasie van Wag-‘n-bietjie is naamlik deur ‘n ruim subsidie uit die LW Hiemstratrust ondersteun.  So word voorin aangekondig.

Na dié trust word in boekkringe grappenderwys as die weduwee se kruik verwys. Dt is naamlik aan sy weduwee, Rikie,  te danke  dat honderde boeke in Afrikaans oor die afgelope meer as drie dekades kon verskyn wat andersins dalk nooit die lig sou gesien het nie.

Rikie het met die idee gekom dat die diep spore wat haar man as taalpionier getrap het gehuldig word met ’n trust wat sy lewenstaak sou voortsit. In 1984 het sy ’n ruim bedrag uit sy boedel vir so ’n trust bewillig. Dit moes gebruik word om die Afrikaanse taal en kultuur te bevorder en uitgewers in staat stel om boeke wat aan dié kriterium voldoen, te publiseer.

’n Uitgebreide verskeidenheid titels het sedertdien met so ‘n subsidie verskyn, waaronder woordeboeke en biografieë, boeke oor die taalkunde, godsdiens, kuns, musiek, geskiedenis, die geneeskunde, ekonomie, volkskuns, natuurwetenskap, genealogie en sakebestuur, ook talle nuwe romans, digbundels, dramatekste en heruitgawes van klassieke reekse. Tot en met 31 Desember 2023 is ’n totaal van R39.3 miljoen aan subsidies uitbetaal.

Ansoeke word deur die uitgewer geïnisieer. Wat geverg word, is ’n motiveringsbrief deur die aansoeker en aanbevelings deur minstens twee deskundige beoordelaars.

Ek ag myself as bevoorreg dat vyf boeke uit my pen geag is om voldoende aan daardie kriteria te voldoen om vir ‘n sluk uit daardie kruik te kwalifiseer:  Byl in my bos (Griffel),  Laatoes (Naledi), Koerantkamerade (Naledi), Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord (Naledi) en nou Wag-‘n-bietjie.

Dankie daarvoor, Hiemstrastrust, dankie, elke trustee, dankie aan elkeen wat ‘n aanbeveling bygedra het.  (Die huidige trustees is Helgaard Raubenheimer (voorsitter), afgetrede hoof uitvoerende beampte van Nasboek en ’n oud-uitgewer; Ton Vosloo, oud-koerantjoernalis en -redakteur en afgetrede voorsitter van Nasionale Pers; Elmari Rautenbach, joernalis en hoof van die US Toyota Woordfees se Skrywersfees; en Beverley Jackson, trustbestuurder by Absa Trust.)

* Wag-‘n-bietjie sal wyd in boekwinkels beskikbaar wees. Dit kan ook bestel word by die uitgewer, Naledi, se doeltreffende aanlynboekwinkel by naledi.co.za of by Tertia Swart (078 648 8616). Die prys is R275 plus R65 koerierskoste om dit by jou voordeur te laat aflewer.Die verskeidenheid in die boek strek van koerante tot die bos – alles dinge wat naby aan die skrywer se hart is.

Naskrif: Dink ‘n mens aan gedugte stelle broers, kom die Breytenbachs dadelik by jou op: Breyten, Jan en Cloete.  Moenie die Hiemstras onderskat nie: Louis,  genl. Rudolph Hiemstra en regter Victor Hiemstra.

 

Deel dit: