By die afskeid van ‘n geliefde kan jy huil omdat hy weg is of bly wees dat hy gelewe het en jou lewe verryk het. Vir ons geliefde koerant geld laasgenoemde. So skryf ek vandag in Volksblad, die koerant waarin ek 24 van my beste jare ingeploeg het, 12 as redakteur.So lui die volledige brief:
Volksblad maak vandag sy laaste buiging in huidige e-vorm. Herdie tweede verwisseling van bane – die eerste was met die sluiting van die papierproduk – roep om ‘n eerbetuiging.
As tradisionele koerant vir amper 12 dekades en eksperimentele voorloper in ‘n proses van digitalisering sedert 2020 was sy bydrae tot die skat van versamelde Afrikaanse geestesgoedere enorm.
As redakteursfabriek het hy die joernalistiek met briljante uitvoerprodukte verryk. Dertien redakteurs van
dagblaaie en sowat 15 by ander publikasies kom uit die ou Voortrekkerstraat. Van hulle beklee ‘n prominente plek in die galery van Afrikaner-voordenkers. Bedryfsleiers het hoë sporte bereik, nasionaal en internasionaal.
’n Hele biblioteek van Volksblad-skrywers se boeke kan ’n mens jou verbeel. Sedert 1904 het uit die penne van sowat 90 van die bekendste name uit alle eras meer as 1 000 boeke gevloei. Talle is bekroon, was bakens, het trefferslyste oorheers en verkoop fluks in vele tale in vele lande.
‘n Vrag gesogte eerbewyse sal ‘n reuse-glaskas laat kreun. Dit sluit in die Jan Maraisprys, Akademiepryse soos die Hertzogprys, die Stalsprys en die Marcus Viljoen-medalje, die Phil Weberprys (Naspers se hoogste bekroning), die Rapporprys en die FAK-prys vir individuele uitblinkers.
Onder die koerant se bekers, oorkondes en dies meer was vir taal- en kultuur, die skep van verhoudings, gemeenskapsbetrokkenheid en tipografie, onder meer ‘n miniatuur-ossewaentjie vir die beste beriggewing oor die simboliese Ossewatrek van 1988 en die McCall-prys vir tegniese voortreflikheid ’n verstommende nege keer.
Volksblad het die eerste Saterdagponie uitgegee, ‘n leier met gemeenskapskoerante geword, Bloemfontein sy beroemde Kunsmark en ander tradisies gegee en roem verwerf met sensasionele blitsuitgawes ná rugbytoetse. Sy voorste sport- en motorskrywers is nasionaal vereer. Twee is op die SAB se ererol; een se naam is op Loftus verewig.
Waar tref jy nie oral Volksbladders se spore nie: van die kabinet tot die kansel en van die akademie tot die regbank tot die sportveld!
By die afskeid van ‘n geliefde kan jy huil omdat hy weg is of bly wees dat hy gelewe het en jou lewe verryk het. Vir ons geliefde koerant geld laasgenoemde.