My twee vriende Danie Krynauw en Danie Krynauw het albei later (maar heelwat later) lekker gelag oor ‘n tonetrappery by hul eerste ontmoeting.So ‘n ontmoeting die een of ander tyd was onvermydelik omdat albei in die Kaapse sosiale lewe aktief was.
Een Danie Krynauw (foto links) was burgemeester van Milnerton; die ander een in ‘n topbestuursposisie by die Nasionale Pers (foto regs).
Die kruising van paaie was by die een of ander doe van Trustbank, as ek reg onthou. Dit was in die tyd van dr. Jan Marais en die beroemde Trustbankmeisies met die byekorf-kapsels en stywe rompies.
Presies hoe dit gekom het, kan ek nie meer by een van die twee kontroleer nie. Die laaste kontrolepunt, Danie Krynauw van die Pers, is gister oorlede. Raadsheer Krynauw van Milnerton (later afgetree op Melkbos) is al enkele jare heen, ‘n slagoffer van Covid.
In elk geval, soos ek dit het, is die twee Krynauws en hul gades albei na die geleentheid in die hoë swart toring-gebou van die bank in Adderleystraat genooi. Kollega Danie en Kathleen het eerste opgedaag, hul tafelnommer op die tafelplan vasgestel en hul plekke gaan inneem.
Toe kom burgemeester Danie en Esbe. Hulle raadpleeg die tafelplan en daag by dieselfde tafel op waar Danie en Kathleen reeds hul sit gekry het.
Geen stoel by daardie tafel is oop nie.
“Jy sit op my plek, ” spreek raadsheer Krynauw kollega Danie streng aan.
“Ek sit nie op jou plek nie. Ek sit op my plek. Ek is Danie Krynauw,”antwoord kollega Danie strammerig.
“Dan’s daar ‘n mieks-up, want ek is ook Danie Krynauw en ek en my vrou moet by die tafel sit,”kom dit van eersgenoemde.
“Nie my skuld nie,” antwoord nommer twee.
Dalk was hy te vinnig op sy perdjie, het Danie van Milnerton later geredelik toegegee. Maar in daardie stadium was sy burgemeesterlike sensitiwiteite darem al erg aangetas.
“Kom,” sê hy vir Esbe, en daar trek die twee deur se kant toe.
Kommosie. Twee, drie Trustbank-gasvroue sien die uittog gelyk raak en storm op Milnerton se burgemeesterspaar af om die verleentheid ongedaan te maak.
Nou-ja, Danie en Esbe is omgepraat. Hulle is na ‘n ander tafel begelei. Danie Pers en Kathleen het skouers opgetrek en hul sit bly sit.
Die kos en wyn was van die allerbeste, het albei Danies berig. Kathleen en Esbe was instemmend.