
OU bure kuier saam op Melkbos. Ek is links. Die foto is ‘n paar jaar oud.
‘n Amperse buurman in Bloemfontein, prof.Pièrre Theron (85), mede-inwoner van Genl. Van Schoorstraat vir baie jare, was ‘n man wat betekenisvolle spore op onderwys- en kultuurgebied getrap het.: ‘n groot man met ‘n groot hart en met ‘n groot nalatenskap.
Pièrre is vanoggend weens nierversaking by sy huis in Bothastrand, naby Mosselbaai, stil oorlede. Hy was geruime tyd op nierdialise.
Sy bydrae op kultuurgebied sluit in ‘n termyn as voorsitter van die Afrikanerbond in ‘n uitdagende tyd (2007 – 2010). Met sy geredelike glimlag, dienswilligheid en rustige oorwoëndheid het hy as leier veel vermag om ‘n belangrike segment Afrikaners gefokus saam te snoer.
Op onderwysgebied het die oud-onderwyser gevorder tot ‘n gerekende dekaan van die die Fakulteit Opvoedkunde aan die Vrystaatse Universiteit. Sy invloed het wyd versprei.
As kerkman was hy in die voorste gestoeltes as ouderling by die NG gemeente Berg-en-Dal.
Ek en my buurman was ‘n tyd lank saam in die juk in die kultuurakker en het baie tyd saam deurgebring, hetsy in hotelkamers in die vreemde of op pad iewers heen vir ‘n vergadering of byeenkoms. Ons was baie ure in mekaar se geselskap en het tot mekaar se diepste gedagtes deurgedring.
Die nabye verhouding was vir my ‘n vooreg. Om Pièrre goed te leer ken, en die bande steeds te bly handhaaf, was lewensverrykend. Die blymoedigheid waarmee hy die sware las van gereelde nierdialises bly dra het en die humor wat hy in moeilike omstandighede behou het, was vir my besielend. Ek salueer hom.
Erica, sy elegante vrou met die liefde en fyn aanvoeling vir musiek, is voor hom heen. Die herinneringe aan hul saamloop het hy tot aan die einde bly troetel.
My hart gaan uit na sy kinders en ander naastes, veral aan Estelle en Kowie wat hom die laaste ruk so getrou en liefdevol versorg het.