Vir André Groenewald, oud-skoolhoof van Roodepoort, het ek goed leer ken weens sy rol ná die seedrama by Leentjiesklip, Wildernis, in September 2023.

Mev. Jo Hartman, ’n 93-jarige oud-onderwyseres van Bloemfontein, is daardie dag deur ‘n reuse-fratsgolf neergevel en tot in die middel van die pad gespoel. Op pad na die hospitaal het sy gesterf.

Hoe sy en sewe ander mense op vlug slaan voor die skielike bedreiging is te sien op ’n dramatiese foto deur ’n ooggetuie, Tanya Rossouw (52) van Wildernis, wat in haar Mahindrabakkie op die parkeerterrein met haar selfoon sit en foto’s neem het. Die bakkie was oomblikke later ook onder water.

Aanvanklik is net die een helfte van die foto op die webblad Nagkantoor gepubliseer, sonder die slagoffer. André was die eerste om die gedagte van die publikasie van die volledige foto as huldeblyk aan mev. Hartman en die ander te opper. Sy gevoelvolle kommentare, skakeling met Tanya en sleutelrol in die uiteindelike publikasie van die noodlotsfoto waarop  die skraal  mev. Hartman probeer wegskarrel, was gedenkwaardig.

Uit daardie kennismaking op Facebook het kuiers op Melkbos en in Sabiepark gespruit.  André en Betje was op 24 Julie ons gaste by die piekniekplek. Ons het opgeruimd saamgekuier. Pas tuis na hul vakansie het hy geval en so seergekry dat hy in die waakeenheid beland het.  Na 12 spanningsvolle dae is hy gister sag oorlede.

Die storie van die drama by Leentjiesklip en die spesiale vriend  André se rol word vertel in my nuwe boek, Wag-‘n-bietjie, wat pas by Naledi verskyn het.  Wat ‘n jammerte dat Andre nooit daardie boek in sy hande sal kan neem nie.

Foto 1 is op 24 Julie van my en Andre is by die piekniekplek geneem en foto 2 is die unieke foto van Tanya Rossouw – een wat sekerlik ‘n joernalistieke prys verdien het.

Deel dit: