
Links is hy in sy wit erebaadjie van St. Andrews en regs is ons twee saam op ‘n spanfoto van Colin se Kallers
As brugbouer tussen gemeenskappe en vertroetelaar van gesonde verhoudinge het Colin Hickling nie sy gelyke gehad nie. Die eienskap het die opperste jintelman ’n uiters gewilde burgemeester van Bloemfontein in die 80’s gemaak en hom die eer besorg om as een van die eerste Bloemfonteiners van die Jaar gekroon te word.
Niemand was ook ‘n lojaler alumnus van die St. Andrews-skool nie en niemand ‘n lekkerder maat vir sy uitgebreide vriendekring nie as Colin Kenneth Hickling wat die naweek op 86 aan kanker oorlede is.
Ek eer hom as kaptein van die sosiale krieketspan Colin se Kallers wat epiese wedstryde teen Bill se bulle van Welkom gespeel het met die doel om gemoedelikheid tussen die twee stede te bevorder. In my studeerkamer op Melkbos is ‘n blokkie donker hout (embuiarig) waarop ‘n klein krieketkolfie van ‘n gelerige hout gemonteer is. Op ‘n koperplaatjie is gegraveer: Hennie van Deventer – Stigterslid – ‘Colin se Kallers’ – Met beste wense van jou spanmaats – 23 – 2 -92 (die datum toe ek Kaap toe is). Dit is iets waaraan ek waarde heg.
Ek eer hom ook as ‘n hegte vriend van Die Volksblad wat my kort na aanvaarding van die redakteurskap in 1980 gewerf het as eerste Volksblad-redakteur wat lid van die Bloemfonteinklub geword het. Hy was die vader van die gedagte om na sluiting van die koerant The Friend in 1987 die Engelse blokkiesraaisel na Die Volksblad te skuif.
Hy was die hart en siel van die Friday Club, ‘n gesellige saameet-broederskap van ‘n uiteenlopende leierskorps in die stad. Hy het ‘n Londense taxi besit waarmee lede van die Club in die 80’s allerlei avonture beleef het, o.m. ‘n ordentlike “pub crawl”.
Hy was Engelssprekend maar het Afrikaans so goed gepraat dat iemand eendag tydens ‘n Engelse toespraak verras verklaar het: “Ek het nie geweet Colin kan so goed Engels praat nie!”
Hy het ‘n kwarteeu of langer gelede ‘n agterkwart-amputasie ondergaan. Sy vrou, Barbara, het ‘n dokter hoor sê: “Why are they putting poor Colin through all this? Why don’t they allow him to die in peace?” Wat ‘n goeie, vrugbare kwarteeu het dit nie geword nie.
Ek salueer die wonderlike maat en treur saam oor die sagte stem, spitsvondige geselskap en ondeunde glimlag wat vir altyd weg is.
.