
Ou wapen (links) en die nuwe (regs)
A luta continua. Die stryd duur voort teen die verkragting van my geliefde skool, Volkies Potch, se wapen van ‘n arend op ‘n skild – klassiek weens sy eenvoud en krag.
Die volgende brief uit my pen verskyn vandag in die dagblad Beeld:
Vandag wil ek die wapen opneem vir ‘n wapen – my geliefde skool, Volkies van Potchefstroom, se klassieke en tradisieryke arendwapen.
Op die verre Melkbos neem ek kennis van ‘n ongelukkige nuwe wapen wat toenemend die karaktervolle en klassieke oue verdring. Die besige nuwe vertoon ‘n krans van akkerblare om ‘n arend wat ook ietwat anders lyk as die een wat nou al amper 100 jaar (sedert 1925) op generasies Volkies se borse pryk. Die ou skild is skoonveld weg.
Natuurlik het dit mode geword om ter wille van verandering blindelings te verander. Maar instellings met respek vir tradisie en hul identiteit torring nie sommer aan iets wat oor geslagte soveel sentiment opgebou het nie.
Ek kan eerlik nie dink dat my Volkie-matriekmaats van 1957 – die klompie wat nog oor is – hulle kan vereenselwig met so ‘n onsensitiewe inbreuk op ‘n identiteit waarop hulle dekades lank trots is nie. Ook nie enige ander alumnidraers van die swart, rooi en goud nie.
Uit Potchefstroom verneem ek uit Volkiekringe rammelinge van weerstand en protes. Grootse prestasies is immers deur die jare onder die ou arend-wapen ingeryg. Administrateursbekers en ander topbekronings is verower. Die naam Volkies is daardeur met eer beklee,
Maar alumni is nie in die ingryping geken nie. Ons is nie eens die hoflikheid betoon van ‘n kennisgewing nie. Sou dit nie billik gewees het om by wyse van ‘n referendum eers alumni te raadpleeg voordat aan so ‘n hartskwessie gekarring word nie?