Onse braaimeester, Sakkie Bruwer, het gepraat, en kom storms, sneeu of wat ook al Woensdag, Braaidag, ruk ons Probus-span met ons braaitange, mandjies en genoeg wyn op vir ‘n meneer van ‘n braai hier by die uwe op Melkbosstrand.
Probus sal gereelde lesers van hierdie blog weet – as daar gereelde lesers is! – is ‘n klub van afgetredenes en semi-afgetredenes . Ons is almal seniors. Min stuit ons egter as ons wil braai. En ons braaie is gewoonlik menere.
Woensdag braai so plus-minus 40 van ons. Die vaste patroon is dat Sakkie die vleis koop – hy is ‘n uitsoekerige vleis-kenner en vertrou g’n ander mens met die aankope nie – en dan persoonlik volgens sy eie hoë maatstawwe braai. Wat hy gaan braai, is nog geheim. Ons ander verrig, op sy bevel, minder verantwoordelike handlangertakies soos om die hout aan te dra, speserye aan te gee of die glasies vol te hou.
Van die vroue is opgekommandeer om te sorg vir die aartappels, slaaie en pap. Ja, ons (wel, party van ons!) eet nogal pap hier aan die Weskus. Verder sorg elkeen vir sy eie te drinke, eetgerei, wyn en glase. Twee opslaantafels word aangery om as staanplek vir die verskeidenheid mandjies en bottels te dien. Vrydag kreun Penguin Place 11 se vullisdrom weer onder die vrag wynbottels, arme ding.
‘n Vorige keer toe so ‘n groot Probus- spanbraai by die Van Deventers was, was op 11 Augustus 2001 in Sabiepark. ‘n Groep van 24 Melkbosse vriende het die aand “oorgekom vir ‘n braai”. In ‘n konvooi het hulle opgeruk, die hele 2 000 kilometer van ons “strand van melk en heuning” aan die Weskus af. Die volgende oggend is die Melkbossers Wildtuin toe.
Dié aand is op die tipiese Bosveld-manier gekuier. ‘n Tweevuurkuier is aangelê. Agter was ’n ramkatvuur vir die skaaptjops en die wors (en die stywe pap in ’n swart driepootpot). Voor was ‘n nog ysliker een vir die atmosfeer en geselligheid. ‘n Vrag hardekool, rooiboswilg en sekelbos is daardie aand in vlamme op. Genoeg vir ’n maand se gewone kampvure — ‘n hele bakkievrag vol.
Maar ’n bobaas-Bosveldfees was dit bepaald met drie plaaslike raakvat-braaiers om die vure te stook en die feestelike ete van die gloeiende kole af op te dis.
“Watter wonderlike gawes kom nie uit U vaderhand nie?” kon ek dankbaar bid toe ek onder die sterre die seën vra. Voor slaaptyd gaan lees ek toe weer Prediker 3: 12 en 13: “Ek het tot die insig gekom dat daar vir ‘n mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet. Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is ‘n gawe van God.” Na sulke overdaad is dié trooswoorde van die Prediker ‘n lafenis.
‘n Amperse insident is daardie aand deur Thys Slabber, Swartlandse boer met g’n bang haar op sy kop nie, afgeweer deur ‘n nuuskierige (en waarskynlik honger) hiëna met ‘n graaf te verjaag toe hy die voorstoep wou bestyg. Amper was dit ‘n braai met ‘n hoonlag, soos dit by geleentheid vir ander Sabieparkers ‘n braai met ‘n brul was.
Die lapa van erf 353 uit Wildevylaan wat toe nog aan Tony en Noenoe Zimolong behoort het, is neffens die piekniekplek en kyk uit op ‘n oop stuk rivieroewer. Die oewerbos in daardie omgewing is meesal yl en klein. Langs die kampvuur in hul lapa verlustig die Zimolongs en ‘n paar vriende, drankie in die hand, hulle een aand lank aan ‘n seldsame skemer-vertoning van leeus wat op ‘n veilige afstand kom en gaan.
Eers verskyn ‘n uitgegroeide wyfie in die oopte en staar die groepie Sabieparkers onvriendelik aan met ‘n wye oop bek. Toe kom die kraagmannetjie. Hy gaan sit soos ‘n hond op sy agterpote en gluur vir die toeskouers. Twee lewenslustige welpies klouter en speel op en bo-oor hul ma.
Vir Gary en Michelle Karlson van Thulani (erf 191 in Maroelalaan) het die Zimolongs daardie middag eers leer ken. Die Karlson-egpaar is sommer in die pad voorgekeer en genooi: “Kom kyk, hier’s leeus” Die Karlsons het hulle nie twee keer laat nooi nie; hulle kon nie vinnig genoeg ‘n U-draai maak nie.
Kort na 18:00 groet hulle om ‘n eie vuurtjie te gaan pak. Maar ‘n luide, aanhoudende gegrom laat hulle op pad na hul motor toe versteen vassteek. ‘n Vinnige leeu-stormloop in hul rigting laat hulle, wit geskrik, vinnig retireer. Gelukkig is die gevaar sowat vyftien meter ver, met die draad tussen hulle!
Tony sit vir sy etegaste ‘n vleisie op die kole. Gashere en gaste sou buite aansit. Vir oulaas swaai hy sy flitslig rivier se kant toe. Toe’s dit net die ene blink oë. Die vyf groot katte sit snoesig saamgebondel in die ligkol, teenaan die draad. Die vyftien meter het onheilspellend tot skaars twee meter gekrimp.
Die vierstuks neem toe ‘n vinnige besluit. Hulle raap hul braaivleis op en soek liewer maar vinnig die veiligheid van die huis op. By sy eie huis, ver van die leeus af, braai Gary Karlson daardie aand ook maar haastig en op sy hoede. Ja-nee, n braai kan gevaarlik raak as hy wil!
Braaie is gewoonlik maar, om allerlei redes, nie altyd ’n plesiertjie nie. Een Van Deventer–braai onthou ek om pynlike redes.
Nog sonder kind of kraai, is ek en Tokkie in die jare sestig op ’n Tuinroete-toer. Deel van ons bagasie was ’n opvoubraaiertjie wat spotgoedkoop by ’n Bloemfonteinse vulstasie aangeskaf is. Op Oudtshoorn kry ek ‘n ingewing: ons gaan braai vanaand in Meiringspoort. Tokkie is dadelik vuur en vlam. Vleis, bier en houtskool word gekoop en ’n mooi, beskutte plekkie in daardie ruwe gebergtes uitgesoek.
’n Leë vuurhoutjiedosie en ’n bier of twee later is die houtskool egter nog pikswart en yskoud. Met my selfbeeld aan flarde en my frustrasie hemelhoog, raap ek daardie braaiertjie op en smyt dit met geweld in die leë konka wat gerieflik byderhand is. Tokkie protesteer — sy het nog altyd gekloek oor haar besittings — en herwin die verwerpte braaiertjie huilend uit die konka. Ons ry in broeiende stilte terug dorp toe.
By Kleinplaas swaai ons in en kry ’n hoop gloeiende kole wat ’n woonwa-eienaar bedagsaam vir ’n braaier in nood agtergelaat het. Só het ons darem nie honger gaan slaap nie. Huweliksharmonie het egter ’n bietjie langer geneem om te herstel.
Daardie braai noem ek die Misbaksel van Meiringspoort. Maar ek glo Woensdag s’n op Melkbos sal voorspoediger verloop. Ons braaimeester, Sakkie Bruwer, is immers persoonlik in beheer. (HvD)
