Middag uit Melkbos
Fanus Rautenbach, President van Flinkveria, was ‘n huishoudelike naam by baie van ons in die goeie ou tyd (die goeie oue tyd, my vriend, die goeie oue tyd …). Vandag het die top-uitsaaier by ons gemeente se Silwerkragbyeenkoms (nie vir jongmense nie!) herleef – Penniefluitjie-kwêla en al.
Danie Botha, skrywer van o.a. Tien uit tien, stories en sêgoeters””, ‘n keur uit Fanus (vir Danie was hy Fanie) se humor. As dit waar is dat lag vir die siel is wat seep vir die lyf is (soos die Jode glo glo) is ons oues almal met skitterskoon siele huis toe (of kieriekasteel toe – Fanus/Fanie se naam vir ‘n ouetehuis).
Een “stedelike legende” oor Rautenbach is hoe hy hom meermale teen die sedebewakers boedneus sou geloop het en “van die lug afgehaal is”. Nie so nie, vertel Danie Botha. Hy haal Fanus self aan dat dit dikwels so gegons het gewoon as hy met verlof gegaan het. Slegs een keer is hy tot orde geroep. Dit was die keer toe hy vertel het van die Hatfieldbus.
Hy was verbaas op die Hatfieldbus dat nie een vrou ‘n hoed op het nie. Net more, net more, wil hy gaan ry op die Brooklynbus!
Daai ene van die gawe buurman wat sy broek vir jou sal uittrek, en die buurvrou wat ewe gaaf is, is dalk ‘n lekker storie. Maar dat Fanus se draadjie daaroor geknip is, is nie waar nie, hoor. Jammer om ‘n pretbedewer te wees!
Van “kieriekastele” gepraat: hier’s ‘n Fanusversie oor die inwoners:
Sê die omie van die tannie
(Hul gaan medisyne koop):
Ëk’s so lief vir haar –
Ek wil weerskante van haar loop!”
Mooi loop, maar darem net aan die een kant!
(hvd)
