
O gaats, daar gaan my ryding (lasbrief uit Magareng), my rekenaar (lasbrief uit Leekwa Teemane) en my TV-stel (lasbrief uit Emakhazeni) … en die balju dreig bloeddorstig: hy kom volgende week weer. Nuwes goeters gaan koop, kan ek maar op my maag skryf en met my hempie doodvee, soos my ouma sou gesê het, want die naam Jakob Hendrik van Deventer is op die “swartlys”. Ellende op ellende!
Sê weer, sê u. Goed, hier kom dit: dis die Wet op Administratiewe Verrigting van Padverkeersmisdrywe van die Nasionale Departement van Vervoer en die Padverkeersbestuurskorporasie (PVBK) wat so vir dese en gene smarte gaan veroorsaak. Dié drakoniese wet tree in 2008 in werking, en behels o.m. dat beslag gelê kan word op die roerende bates van motorryers wat na drie maande nog nie hul boetes betaal het nie. Oortreders kan glo ook by kredietburo’s geregistreer word, as ‘n mens Die Burger kan glo.
My keel trek toe, want ek moet boete doen – die stapeltjie “kennisgewings” rakende verkeersake is hier in Penguin Place 11 al heel frisserig. Hier is die lysie boetes wat ek om die een of ander rede in my Boetes-legger bewaar:
Magareng (Warrenton) – R800,000 en R150,00
Lekwa Teemane (Bloemhof) – R100,00
Emakhazeni (Belfast) – R250, 00 en R500,00
Mbombala (Witrivier) – R200,00
Richmond – R600,00
Swellendam – R150,00 (dis waar die netjiese kleurfoto van ‘n “voortsnellende” TY 24 hierbo deur ‘n wakker padvalk geneem is.)
Beaufort-Wes – R200,00 en R200,00
Laingsburg – R300,00 en R200,00
Kaapstad – R 250,00
Malmesbury – R150,00
Die totaal is ‘n verstommende R4 050,00. Voeg petrol- en tolgeld by (plus die verweer van jou motor en bande) en om agter die stuur in te skuif, word ‘n peperduur speletjie!
Nou weet ek wat wetsgehoorsame burgers se reaksie op my belydenis sal wees: wie nie wil hoor nie, moet voel! Maar wag ‘n bietjie, mense, gee die uwe tog net kans om te verduidelik. Glo my, ek is werklik geen roekelose jaagduiwel nie. Dit raak darem seker ‘n perd van ‘n ander kleur as ek met my hand op my hart kan verklaar dat slegs een van daardie boetes vir ‘n snelheid van meer as 120 km per uur was. Die grootste gros is in 80-sones versamel, ‘n paar in 60-sones en een – waaroor ek vantevore gerapporteer het – oor my nommerplaat.
En die meeste het ek darem al geheel of gedeeltelik betaal, terwyl in een geval (die nommerplaat-sage) die saak teruggetrek is en oor ‘n paar ander nog korrespondensie heen en weer gewissel word.
Oor al die 60- en 80-sones wat soos hare op ‘n hond se rug landwyd opspring om agtelosige voetgangers te beskerm, het ek sterk gevoelens. In vreemde omgewings is die oorgang van een spoedsone tot ‘n ander dikwels verwarrend. Jy dink nog jy moet 80 ry, dan sien jy – o gonna! – hier is dit 60. Dikwels is die een bordjie so kort op die ander dat dit onmoontlik is om jou snelheid vinnig genoeg te verminder tensy jy rem dat dit bars. Dikwels is bordjies so weggesteek dat die versigtige bestuurder wat op die pad konsentreer, dit eenvoudig miskyk.
My twee Warrenton (Magareng)-spoedoortredings is twee minute na mekaar gepleeg, albei in ‘n 60-sone. Om 09:15 op 7 September 2007 het ek glo 74 gery en om 09:17 ‘n hele 99. Buiten vir die aktuele vraag of ek nie hier twee keer beboet is vir een en dieselfde oortreding nie, lyk die tweede lesing vir my nogal betekenisvol. Klaarblyklik was ek besig om aan te stoot onder die indruk dat ek maar weer 120 kan begin ry. Maar verduidelik dit nou vir iemand wat nie wil of kan verstaan nie!
Wat ek graag sal wil weet, is of kameras ook in tydelike sones opgestel word – soos wanneer padwerke aan die gang is. Daardie tydelike bordjies kan immers na willekeur rondgeskuif word. Veral oor naweke lê van hulle in strepe plat soos ouens hulle omry. Maar omdat die oortredings (beweerde oortredings) dikwels honderde kilometer van jou huis gepleeg word, is dit onmoontlik om te gaan kyk presies waar en in watter omstandighede jy gevang is. Dan dok jy maar op, of versondig jy jou siel met die rig van vertoë.
Ek vra, want in die Karoo, tussen Beaufort-Wes en Leeu-Gamka, sou die verkeer een Sondag vir 30, 40 kilometer teen ‘n slakkegang beweeg het as ons ons aan die bordjies gesteur het. By padwerke wat feitlik klaar was, was ‘n 80-bordjie en toe ‘n 60-bordjie maar gedoriewaar nooit weer ‘n bordjie met die blye nuus dat jy weer normaal kan ry nie. Almal het toe maar aangestoot – bordjie of nie bordjie nie. Gelukkig het geen “kennisgewing” opgedaag nie.
Een indruk waaraan ‘n mens moeilik ontsnap, is dat boetes van deurverkeer vir sekere munisipaliteite aan die hoofroetes ‘n substansiële inkomstebron geword het. Hulle vang jou nie t.w.v. padveiligheid nie, maar om hul munisipale koffers te sterk. Een so ‘n plek is Beaufort-Wes. Ek kruip al uit beleid deur daardie mooi Karoodorp soos ‘n trapsuutjies, maar dan trap hulle my nog telkens vas. Is dit nie duskant die dorp nie, dan daar in die Wawiel se omgewing. Elke keer so ‘n ietsie oor die 60.
En. Boeta, probeer nou onderhandel. Jy moet ‘n 011-nommer skakel – Johannesburg. Daar gee mense soos me. Charity Timema in gepoleerde stads-Engels antwoord. Daarna word jy in ‘n tou gerangeer soos by die wafferse oproepsentrum van die een of ander groot firma. Dan begin jy wag … en wag … en wag.
Ek weet dis onwys om te sê: fonteintjie, uit jou drink ek nie weer nie. Maar ek ooit weer agter die stuur inskuif vir die tog noorde toe? Skiet my dood. Dis baie goedkoper en vir jou siel gesonder om te vlieg – selfs met die risiko dat een (of meer!) van die motore kerplaks uit die hemele kan neerstort! (HvD)