Op die voorblad van Albert Blake se afgewagte biografie oor Jopie Fourie pryk ‘n mooi foto van die jong Boererebel, let ek op. Ek wonder of Blake weet van die tyd toe dit onwettig sou wees en vir hom ‘n boete op die hals kon haal.Ton Vosloo het in daardie slagyster getrap. Rondom 1980 is hy in die Johannesburgse landdroshof met R1 000 beboet omdat Beeld in die bylae BY ‘n foto geplaas het van Fourie wat in 1915 tereggestel is deur Louis Botha se regering.
Die foto is sonder Vosloo se medewete geplaas. Hy is egter as redakteur van Beeld gedagvaar – dalk was Jimmy Kruger nog minister van justisie wat sy mes ingehad het teen koerante !
Vosloo het nie R1000 kontant by hom gehad nie en kredietkaarte was nie aanvaarbaar nie. Hy is selle toe geneem, vingerafdrukke geneem , maar hy kon darem Beeld se bestuurder, Eric Wiese bel wat duisend rand dringend van Doornfontein stad toe oorgestuur het om hom by die selle af te los.
Die boete van R1000 was die drumpel – indien dit meer was, sou Vosloo ‘n permanente misdaadrekord gehad het wat hom dalk in sy latere loopbaan as direkteur van maatskappye kon benadeel het!
Ekself moes in die 80’s by Die Volksblad ;n boete van R100 opdok oor ‘n foto wat By, ook sonder my medewete, van Dmetrio Tsafendas, moordenaar van dr. HF Verwoerd, geplaas het.
Gelukkig het tye in die opsig verander. Blake hoef nie ‘n boete – of, erger, die tronk – te vrees nie!