‘n “Vreemde en weersinwekkende beeld van die Voortrekkers … ‘n verhaal van uitgeslape, bygelowige heidens  met  verrotte sedes, van verbastering, buite-egtelike gemeenskap en sadistiese wreedhede.”

Met hierdie woorde is op die voorblad van Die Burger van Woensdag 27 Desember 1937 kaalvuis losgetrek teen ‘n gewraakte boek, Turning Wheels, deur Stuart Cloete. Dit was sy eerste roman en is gou-gou verbied.  Die Burger het ‘n leidende aandeel gehad aan die kampanje vir ‘n verbod.

Met verskyning in 1937 het verskeie Engelse koerante – hier en in Engeland – resensies geplaas waarin die boek aangeprys word.  Die Volkstem van Pretoria het gemeen dat Afrikaners die boek met “verwondering” sal  lees. “Verwondering” was ‘n sagte woord!

Die Burger het geen resensie-eksemplaar ontvang nie.  Op Maandag 22 November 1937 het hy ‘n eksemplaar laat koop.   Twee dae later was sy “resensie” (sy woord) op die voorblad. Die opskrifte het van verontwaardiging gegloei: “Ongelooflike beswaddering van Voortrekkers / ‘Geskiedkundige’ roman wat ruime afset geniet  / Verwronge skandebeeld in Engeland geprys”

In die “resensie” is gemeen die boek “getuig nie soseer van kwaadwilligheid nie maar van grenselose onkunde”.

In ‘n hoofartikel het die koerant gevra dat die minister van binnelandse sake die boek verbied, en in die volgende dae is ruim publisiteit aan proteste teen Cloete se werk verleen.  Die Voortrekkers is ten tyde van die Groot Trek en daarna herhaaldelik deur hul vyande belaster, maar van een ding is hulle nooit beskuldig nie, naamlik sedelike losbandigheid, het Die Burger geskryf.

Op aanbeveling van die sensuurraad het die minister van binnelandse sake,  R. Stuttaford,  op 8 Desember 1937 die invoer en verpreiding van Cloete se roman verbied.  Kollega Jaap Steyn – aan wie ek postuum dank verskuldig is vir baie van hierdie inligting – het gemeen dit is geregverdig om te beweer as Die Burger nie die nuuswaardigheid van die boek ontdek het nie, daar geen polemiek sou gewees het nie.

Die ander Afrikaanse koerante het eers aandag daaraan gee nadat die bom in Die Burger gebars het.

Dekades ná die polemiek het Die Burger weer  ‘n kort resensie geplaas by die verskyning van ‘n nuwe druk van Turning Wheels. IL de V(illiers) het geskryf dat die boek ná jare van “ballingskap” en nie minder nie as tien herdrukke in boekwinkels beskikbaar is.

“Ongelukkig is dit maar dieselfde mengsel van brutaliteit en soetsappigheid, selfs banaliteit van Cloete se ander werke – ‘n vervelige vertelling wat ‘n mens laat wonder hoe op aarde kon dit tien herdrukke beleef.  Sou dit wees omdat dit in Suid-Afrika verban was?”

Minder as ‘n jaar na Turning Wheels het ‘n omgekeerde  storm oor ‘n Voortrekkerboek losgebars   – die keer oor Sarah Raal se werk Met die boere in die veld.  Aanvanklik het die boek min aandag getrek.  Toe plaas die Cape Argus op 5 Augustus 1938 ‘n berig waarin beswaar gemaak is oor haar onthullings van wat in die konsentrasiekampe gebeur het.

‘n Yslike polemiek oor die toestande in die konsentrasiekampe is daarna in die Argus, Die Burger en Die Volksblad en ander koerante gevoer. Die koerante is toegegooi onder briewe en kon later net uittreksels plaas. Wat die briefwisseling in Die Burger aangevuur het, was sy periodieke berigte oor die Argus se briewe onder opskrifte soos “Hoë lof vir Brittanje se martelkampe/ Danspartye en sopkombuise en swembaaie”.

Raal se werk het van 5 Desember 1936 af Saterdae as vervolgreeks in Die Burger verskyn.

  • IN 1932 was daar ‘n vroeëre opskudding oor ‘n Voortrekkerboek, War, Wine and Women, deur ene Wilfred Saint Mandé. Daaroor was die vet behoorlik in die vuur.  Hou maar die ruimte dop.
Deel dit: