Saterdag het ek die omslag van Kroniek van ‘n Koerantman by my blog gesit oor die venynig salvo in my rigting op By se brieweblad, omdat ek dit durf waag het om oor die politieke rol van die verligte Afrikaanse redakteurs na 1980 ‘n positiewe geluid te laat hoor.
Min het ek toe besef dat dieselfde eer vandag vir Flaters en Kraters te beurt sou val. Flaters was my tweede boek na Scoops en Skandes en het in die Van D-stal verreweg die beste presteer met drie drukke en trefferverkope. Die boekie bied, soos Scoops, ‘n humoristiese kykie op koerante se blapse.
Blapse – dis presies hoekom daardie omslag is waar hy is. Want sedert Saterdag het plus-minus die grootste bokkerop sedert Paardeberg by my ou koerant, Volksblad (voorheen met ‘n “Die”) op die lappe gekom. Die slagoffer is, ironies genoeg, hierdie arme oud-redakteur.
Wat gebeur het, sou gewis vir ‘n fris inskrywing in Flaters en Kraters gekwalifiseer het. Net – op die oomblik is die situasie vir my allermins humoristies!
In die hoop dat ek nie nie-koerantmense tot in die aarde gaan verveel nie, wil ek tog maar my storie vertel. As dit alles baie verwarrend klink, moenie sleg voel nie. Dis ‘n tameletjie van monumentale proporsies!
Alles begin by daardie nimlike brief aan By waarna ek in my vorige blog verwys het. Vir diegene wat nie weet nie, herhaal ek dat die brief handel oor Giliomee en Mbenga se miskenning van Afrikaanse redakteurs in hul Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika.
Saterdagaand sit ek hier onder Tafelberg en mymer oor die felle kritiek op my en drink my wyntjie, salig onder die indruk dat my brief in al drie die Bye (Kaapstad, Johannesburg en Bloemfontein) was. Sondag kom toe die skok. Ek hoor van my vriend Sarel Venter uit Bloemfontein en doen die verstommende ontdekking: Bloemfontein het my brief uitgegooi! Die lammerige verskoning is iets in die trant van ‘n blad wat laat aangekom het – wat op sigself nog nie ‘n treinsmesj is nie.
Wat die drinkwater egter erg besoedel, is dat die verwoede reaksie ‘n week later NIE vir Bloemfontein te laat was nie – dis heelhuids in die Vrystaat se By, presies net soos in die ander twee met daardie neerhalende smeerbrief onder die skuilnaam Verligte Afrikaner as balkon oor bladsy 2 gepleister.
Om sout in die wonde te vryf, is ‘n tweede brief met dieselfde strekking, soos in Kaapstad en Johannesburg, op dieselfde blad. En in die sms-rubriek is presies dieselfde beledigende en persoonlike venyn naamloos opgedis.
Dat die Kaap en Johannesburg veel groter prominensie verleen het aan ‘n skuilnaam-smeerbrief as aan my brief waarop gereageer word, het my klaar dwars in die krop gesteek. In my tyd sou daardie klas brief ‘n briewebussie gekry het: “Nie onder ‘n skuilnaam nie.” Maar nouja, tye verander.
Tienvoudig erger is egter die Bloemfontein-flater: om snydende reaksie – wat gevaarlik naby aan naamskending kom – op ‘n brief te plaas wat nooit eens in jou kolomme verskyn het nie. Kan jy dit glo!
Vir daardie koerant se lesers was daar dus nie geleentheid om self ‘n oordeel te vel oor die meriete van my argumente of om self ook kommentaar te kon lewer nie. Hulle is eenvoudig met die stortvloed van veroordeling bestook. Die eensydigheid daarvan is asemrowend.
Die benadeling van die uwe is vanselfsprekend ook geweldig. In my dag des lewens het ek nog nie van so iets by ‘n koerant gehoor nie. Dis ‘n gruwelike flater waarskynlik sonder presedent in die beskaafde joernalistiek, soos ek hoogs die josie in aan By se redakteur geskryf het.
Saterdag kon ek nog in hierdie joernaal verklaar dat ek nie juis gekneus voel nie; ‘n loopbaan in die koerantwese staal jou vir baie dinge. Maar gister se nuus het my laat steier. Dit was soos ‘n geniepsige opstopper in die broodmandjie. ‘n Mens voel verneder en vir die wolwe gegooi.
Volksblad het vandag ‘n beriggie geplaas oor die gemors waarin hy homself bevind, en my oorspronklike brief sal nou per ooreenkoms more ingaan – tien dae laat! My billike versoek was dat dit ewe prominent as die voortydige reaksie daarop in Saterdag se By aangebied word. Daartoe wou Volksblad hom nog nie verbind nie. Ek hou maar dop.
Hoekom ek ook aan By se Redakteur geskryf het, is omdat hierdie klaarblyklik nie net ‘n Volksblad-aangeleentheid nie. My brief was net aan By gerig, nie aan Volksblad nie. Dit maak daarvan eintlik primer ‘n By-aangeleentheid waarvoor By se redakteur moet pa staan.
By staan, wat my betref, dus vierkant saam met Volksblad in die beskuldigdebank – en dalk nog as beskuldigde nommer een – oor die onvergeeflike verleentheid waarin ‘n onskuldige deur sulke joernalistieke onbeholpenheid gedompel is, en oor die aantasting van iemand se eer in ‘n gemeenskap waarin hy glo dat hy steeds as joernalis van integriteit gerespekteer word.
Wat By gaan doen om die saak te beredder, weet ek nie. Wat ek wel weet, is dat ek skade gely het wat haas onomkeerbaar lyk. Die hantering vorentoe is bepaald ‘n kritieke toets vir die betrokkenes se joernalistieke eerbaarheid en moraliteit. Laat ons hoop hulle slaag daardie toets met vlieende vaandels. (HvD)
