‘n Mens wil ook nie al jou skandes uitlap nie, maar toe die gesprek oor persoonlike verleenthede eers koers kry, skiet drie van my eie pynlike herinneringe soos proppe in ‘n skottel water na die oppervlak. Nommer een word deur Fred Mouton hierbo uitgebeeld op die omslag van my reisboek, Oos-Wes-Reismoles. Dit was die dag toe ek Amerika as’t ware binnegeval het.

Ek bloos ook nou nog oor ‘n ander Amerikaanse insident – ene met ‘n swaaiende jaspant en ‘n elegant-geklede vrou se parfait in ‘n restaurant in Chicago. Dan was daar die keer op Vrede se rugbyveld toe ek in die aarde wou insink….

Hoekom die nou ou koeie weer uit die sloot grawe? Wel, als het begin met die ski-stories in hierdie webjoernaal op Vrydag 11 April met die titel Staaltjies van straaltjies (blog 4).’ n Week later, op Donderdag 17 April , is die saak verder gevoer met die stuk ‘n (Ont-)blote ongelukkie (blog 2). Intussen is die Van Deventers se eettafel vuurwarm gesels met onthou-stories van penaries wat graag liewer vergeet sou wou word.

Die val van HvD op die boek se omslag geskied met ‘n helikopter op die agtergrond. Juis. Dit was die dag toe ons in 1976 in New York geland het. Die helikopter moes ons na Newark neem vir ‘n vlug na Boston. Toe die affêring land, dag ek hier’s Newark. Ek kommandeer die gesinnetjie met die trappies af, bagasie in die hand. Die helikopter begin woer-woer om weer op te styg, en tot my ontsteltenis ontdek ek ons is nie op Newark nie, maar op LaGuardia.

Ek vloog om en storm. In die proses kyk ek die ketting op kniehoogte skoon mis. Toe ek dié tref, trek ek soos ‘n vrot vel. Broek stukkend, knie bloei en besitting verstrooi op die teerblad van LaGuardia. Die lugwaardin is vinnig by die trappies af om laasgenoemde te kom help versamel en die gevalle passasier op die been te help. My waardigheid was geruime tyd verlore, veral toe Marisa (3) juigend uitroep: “Pappa val!”, en Tokkie sluk-sluk om haar lag te bedwing.

Oor wat in die restaurant gebeur het, kan elkeen met verbeelding seker raai. Die les was: moenie met ‘n jas aan in ‘n smal gangetjie tussen die tafels deur te probeer wurm nie. Want as jou jaspant die parfait van ‘n vrou in ‘n swart aandrok in haar skoot laat beland, voel jy laer as die laagste wurm-spesie. Gelukkig was daardie Yank-dame die dierbaarheid self. Haar “never mind, never mind” en “it’s not your fault” was egter skrale troos. Dit het nie my gemoedstemming verbeter of my swaardvis beter laat proe nie.

Op Vrede was ek vir my Tukkiekoshuis, Kollegetehuis, op ‘n toerwedstryd die middag op linkervleuel toe die losskakel hoek toe skop. Ek laat nael om te red. Die volgende oomblik tref die bal my teen die kop en spat oor die kantlyn terwyl ek die spulletjie op die naat van my rug lê en dophou. Die paviljoen het gedreun. Die aand vra ‘n mooi plaaslike meisie vir my: “Jy was mos nommer 11?” Die versoeking was groot om blatant te lieg.

‘n Heerlike tafelstorie was dié van my swaer Fanie van Wyk. Hy is ‘n man wat nogal opgewonde kan raak. Toe die tuinman op ‘n Saterdagmiddag op Harrismith sy besproeiing stukkend spit, was dit sulke tyd. Met water wat hoog die lug in spuit, trek hy bulderend los soos ‘n kampioen-markagent wat op dreef is. Skoonsuster, Maretha, skrik vir die onaardse lawaai en storm buite toe. Op daardie oomblik ontwaak die buurman uit sy middagslapie, hoor die gegil en sien Maretha hardloop. “Bel die polisie,” skree hy vir sy vrou, en duik by die venster uit net in sy onderbroek. Hy het vermoed Maretha het Fanie met die bakkie onderstebo gery!

Fanie het nogal beteuterd gevoel toe half-geklede buurman op die toneel verskyn om die krisis te kom help hanteer – soos ‘n ander keer toe hy vir ‘n jong rugbyspeler na ‘n nederlaag troos: “Julle het nie ‘n slegte spannetjie nie; julle moet net ‘n ander heelagter kry.” Dit was die heelagter!

Iemand onthou toe van die ou wat by ‘n onthaal by ‘n medegas wou weet: “Wie’s daai lelike vrou?” Die antwoord was kiltjies: “Dis my vrou.” Die ou probeer red: “Nee, ek weet wie’s jou vrou. Ek praat van die een langs haar.” Die antwoord was nie juis hartliker nie: “O, dis my tweelingsuster.”

Marisa (sy wat destyds vir haar vader se val-slag gelag het) onthou die keer toe sy in ‘n restaurant kleedkamer toe is.Toe sy te voorskyn kom, was dit met ‘n stert van wapperende toiletpapier!

So van kleedkamers gepraat: is dit nie opvallend nie dat die ski-stories van 11 April almal die gemeenskaplike element van ontydige blaas-aktiwiteit het? Skoonseun, Brent, was ook die slagoffer van so ‘n situasie. Net in sy geval was dit op die 18de putjie van ‘n gholfbaan. Klaar gestort en verklee na sy ronde, was hy besig om hurkend die laaste stryd van die dag op die setperk gade te slaan toe ‘n hond hom as ‘n sagte teiken identifiseer. Die volgend oomblik was hy onplesierig nat teen sy blaaie en sy eer liederlik gekrenk.

Tokkie was gelukkiger. Op ‘n naweek saam met vriende in ‘n vakansiehuisie op Tulbagh verdwaal die ou vriend die nag op pad badkamer toe. Daardie geheimsinnige “iets” wat ‘n mens so dikwels tot redding kom, laat haar wakker skrik – net betyds om te sien sy lê sonder enige ontsnaproete reg in die vuurlinie.

Haar kritieke keuse was duidelik: skreeu ‘n waarskuwing of vat wat kom. Eersgenoemde sou sekerlik die mikkende vriend taamlik verleë laat voel. Laasgenoemde sou meer as net haar nagrus versteur. Sy het sonder aarseling die eerste opsie gekies. (HvD)

Deel dit: