Op die NG gemeente Melkbosstrand se kerkalmanak vir 2008 verskyn die kerkgebou uit ‘n ander hoek – weer geskilder deur lidmaat Maré Bruwer en, soos haar vorige skilderye van die kerk, uiters vleiend. Jy kan die argitek (en die kommissie wat die planne goedgekeur het) gewis nie ‘n pluimpie gee vir hul estetiese waardes nie!

Dit daar gelaat. Die gebruik van die kerk as illustrasie by vandag se bydrae verklap natuurlik dadelik dat dit hier weer tyd is vir kerksake. Ek vra nie verskoning nie. Anders as baie mense se (wantrouige) vermoedens oor joernaliste – kan koerantredakteurs Christene wees, wou een ver-regse dominee in die onstuimige jare tagtig op ‘n keer driftig weet – is die kerk nie vir ons onbelangrik nie.

Verskeie dien in kerkrade, selfs in leiersposisies; oud-kollega wyle Fred Schnetler was aktief betrokke by die gemeentepublikasie van die NG moedergemeente op Malmesbury (ook Ben van Rensburg op Langebaan, Johan de Wet in Roodepoort en seker verskeie ander is deesdae “gemeentejoernaliste”) en ek neem graag deel aan kerklike debatte.

Die Burger het – ietwat prematuur, meen ek – die debat in sy briewerubriek oor Belhar gesmoor. In Kerkbode is die debat egter baie lewendig, In die jongste uitgawe skryf o.a. dr. Johan Botha, sekretaris vir Getuienisaksie van die NG Kerkfamilie in Kaapland, ‘n brief wat dadelik my aandag getrek het. Die opskrif is: Gods Gees het ons omgedraai.

Terwyl ek vanoggend op die strand stap, het ‘n reaksie in my kop begin broei. Ek is later rekenaar toe en my brief lê nou by Kerkbode. Ek plaas dit ook hier, want ek skat nie daar is ‘n vreeslike oorvleueling van leserskap nie. Hier volg my brief:

In Kerkbode van 7 Desember 2007 skryf ds. Johan Botha ‘n betekenisvolle brief waarin hy onder meer melding maak van “onverkwiklike en pynlike bydraes van dese en gene in die media oor die rol van Belhar….”

Oor Esselenpark, Achterberg en sinodes merk hy o.m. op:

“ Gods gees het …. onder ons vaardig geword . Teen ons eie sin en wil is ons diep geraak …. ons kon as leierskappe …. op ’n roete ooreenkom, want die Gees het ons harte vir mekaar oopgesluit….”;

“Dit is so, ons was nie almal daar nie. Maar as breë kerkleierskap, het ons ‘n wonder van die Here beleef.”

Ek noem dit ‘n betekenisvolle brief omdat ds. Botha raakvat wat toenemend in die kerk aan die gebeur is: dat by sinodes te midde van spirituele belewenisse met groot impak op die teenwoordiges bepaalde koerse ingeslaan word. “Dese en gene” wat nie daar was nie, beoordeel kwessies meer beredeneerd, serebraal en uit ‘n realisties-praktiese hoek. Hul bydraes word dan deur dié wat wel “daar was”, as “onverkwiklik en pynlik” beleef – koud, liefdeloos en eiesinnig.

Ek praat met die beperkte ervaring van een sinode, maar ek kry die indruk die styl wat daar by Goudini gegeld het, is deesdae algemeen: dreunsang wat jou hoendervel gee, aangrypende kleingroepie-gebede en meesleurende “gospel”-bydraes deur kunstenaars met charisma. Die klem val al hoe meer op atmosfeerskepping en spirituele opwekking eerder as op rasionele uitpluis van praktiese kwessies en debat.

Natuurlik kan ‘n mens nie meerdere kerkvergaderings se klem op die opsoek van die Here se aangesig op daardie innige, intieme manier per se negatief beoordeel nie. Die gevolg van besluitneming in sulke omstandighede is egter klaarblyklik: kampe wat ver by mekaar verby praat en toenemend polariseer.

Vir my en ander wat van hul eie studeerkamer-insigte afhanklik is, sou sinodale leiding oor “kerkhereniging” meer gewig gedra het as daar groter praktiese begronding was: as sake wat enorme tweespalt en krisis kan bring – die koste van die hele oefening, aansprake op die gesamentlike koek, eiendoms- en pensioenkwessies, samestelling van leierskap-strukture en dies meer – reeds realisties en deeglik deur die kerkleierskap deurtrap en op bevatlike, logiese manier aan gewone lidmate deurgegee was.

Ek kry ongelukkig die indruk dat van ons kerkleiers met hul koppe in ‘n wolke-waas loop. Hulle hoor en verstaan nie meer die lidmate wat in hierdie gebroke ou wêreld met hul voete plat op die aarde staan en met menslike vrese, bekommernisse en twyfel worstel nie. (HvD)

Deel dit: