Ongetwyfeld die Volksbladman van my era wat sy arendsvlerke die wydste gesprei het, was Pieter Cronjé wat ‘n gerekende internasionale kommunikasiekenner en –bestuurder geword het. By verskeie internasionale konferensies en werkswinkels oor die aanbied van groot byeenkomste en benutting van prima-sakegeleenthede was hy in ‘n sleutelrol. Hy was ook ‘n gasspreker van faam.
Pieter is vanoggend in sy middel 70’s by sy huis op Stellenbosch rustig aan kanker oorlede, omring deur sy geliefdes, sy honde en al die mooi dinge waaraan hy ‘n vreugde had. Dat die dood op pad was, het hy filosofies aanvaar.
Die begaafde beurshouer van Die Volksblad het in die 70’s tot tot politieke beriggewer en Londense verteenwoordiger van Naspers se koerante gevorder. Daarna was sy dekadelange betrokkenheid by die Sokker-Wêreldbekertoernooi van 2010 in Suid-Afrika een van vele hoogtepunte in ‘n glansryke loopbaan. Sy rol om dit as ongekende internasionale bemarkingsgeleentheid te ontgin, was enorm.
FIFA het hom daarna na Brasilië genooi om Suid-Afrika se ondervinding met hul gasheerstede en Wêreldbeker-organisasies vir 2014 te deel. Hy het ‘n handleiding vir FIFA hieroor geskryf. Reise na St. Petersburg, Moskou, Kazan en Saransk in Rusland het gevolg voor Rusland se Wêreldbeker in 2018.
Pieter was voorheen die eerste kommunikasiedirekteur van die Kaapse metro. Hy was ook by Shell waar hy by die instelling van loodvrye brandstof in Suid-Afrika betrokke was. Daar moes hy boikotte en betogings teen Shell hanteer. As kommunikasiehoof en later handelsmerkbestuurder by Sanlam het hy die eerste demutualiserings- en noteringsproses van ‘n onderlinge versekeringsmaatskappy help loods.
By al sy ander ysters in die vuur was Pieter boonop bydraende skrywer vir ‘n paar boeke, het self een gepubliseer oor die lugvaartkunswerke van sy vriend wyle Tiro Vorster en was redakteur van ‘n boek oor ‘n bekende wynplaas se geskiedenis van 327 jaar. Verder het hy, op sy eie of as deel van ‘n span, banke, kleinhandelmaatskappye, sport, landbou en professionele ondernemings, die onderwys en verdienstelike nieregeringsorganisasie geadviseer.
Sy spesiale belangstellings het ingesluit krygstuig, veral vliegtuie, musiek, hengel, fotografie en motorsport. Hy was in die 70’s geag as ’n soort Chet Atkins van die koerantwese. By partytjies waar ons Mnr. Kitaar op sy Honda 750 cc Supersport-motorfiets met sy eie kitaar om sy nek opgedaag het, het die samesang uit volle bors gou op dreef gekom. ’n Ander talent was nabootsing. Piet Koornhof self kon nie meer soos Piet Koornof klink nie.
Agterop sy Honda 750 cc Supersport het hy tot stomme verbasing van sy kollegas een aand vir Oom Bart Zaaiman, besadigde Volksblad-redakteur van die 70’s, ‘n geleentheid gegee. Hy het betaamlik stadig gery, maar die baas het hom twee keer koggelend gevra of die fiets dan nie vinniger kan ry nie. Hy het toe die perde teuels gegee en Oom Bart het komkommerkoel afgeklim. Die petalje het hy graag met plesier oorvertel.
Of ‘n bekwamer, talentvoller, veelsydiger mens ooit by Voortrekkerstraat 79 se deure ingestap het, is twyfelagtig. Daarby het hy met sy waardigheid, beskaafdheid, goeie maniere en humor groot waarde tot hegte vriendskappe met kollegas en andere gevoeg. Oor sy heengegaan word vandag gewis oor ‘n wye spektrum getreur.