Vanoggend se droewige aflewering met sy onvermydelike element van selfverguising begin by gister se blog oor Kersfees-kraters n.a.v. die sakeblad Finweek se weeklike bekroning van die een of ander mamparra of mamparras vir die Wanklank vannie Week.

Die mooie Charlize Theron, hierbo uitgevat in ‘n swart Dior-nommertjie (dankie Huisgenoot!), was op my kortlys oor haar uitspraak in dieselfde tydskrif van ‘n week of wat gelede dat ons in Suid-Afrika nie juis Kersfees vier nie, nie juis Kersbome opsit nie en ook nie geskenkies uitdeel nie. Dis darem ‘n rowwe veralgemening wat dalk dit waaraan sy gewoond was op Benoni se plotte verkeerdelik tot die patroon in die ganse Suid-Afrika verhef. Arrie-nee, Charlize!

Daardie wanklankie uit die Glinsterstad (Hollywood) was egter nie nommer een op my swartlys nie. Nee, die “krimiskoek vir onwelwillendheid” – hoe wurg hierdie arme drommel nou daaraan! – is, volgens my, deur Mpumalanga se provinsiale verkeersafdeling gevat. Dit was op grond van ‘n e-possie wat ek ontvang het (foto en al) oor ‘n “padblokkade” op Kersoggend buite die Krugerhek van die Wildtuin wat “die verkeer tot wie-weet-waar laat opdam het.”

Nou-ja, die verkeer was inderdaad tot wie-weet-waar opgedam, en, ja. dit sou inderdaad sterk teen die gees van Kersfees ingedruis het as die padvalke van Mpumalanga wel daar voor die hek sou toegeslaan het. Die waarheid is egter dat dit geen blokkade was nie en dat die provinsiale verkeersafdeling doodonskuldig is. Die verontwaardigde skrobbering uit Melkbos was dus totaal onverdiend.

Wat wel aan die gang was, was dat Sanparke se eie mense vroeg al begin ingryp het om die getal dagbesoekers te beheer ten einde oorstroming van die geriewe en chaos in die Park te voorkom. Dit gebeur die afgelope paar jaar gereeld in die Kerstyd, in die Paasnaweek en oor elke langnaweek in die winter.

My bron – wat amper laat was vir die Kersdiens in Skukuza weens die opeenhoping van voertuie voor die hek – het egter wat sy gesien en beleef het, sonder kwaadwilligheid as ‘n padblokkade vertolk en Van D. laat weet. Hy het nie op hom laat wag nie!

Vandag sluk hierdie mamparra sy woorde een vir een met die nodige ekskuse, ook aan misleide lesers.

Soos ek gister al in my onmiddellike aplologie geskryf het, was in my dae by die koerante ‘n skertsende gesegde in omloop: Why kill a good story simply because it’s not true? ‘n Ander weergawe was: Don’t let the facts interfere with a good story. Ek het tot die slotsom gekom dat van my bloglesers kon dink hierdie koerantman het op sy oudag vergeet dat daardie woorde humoristies bedoel is.

Kersfees-krater nommer een, hier’s hy op Melkbos! Charlizie behou haar tweede plek, en dis nie omdat ek partydig is vir haar op grond van haar gesig en lyfie nie. Dis uit pure verdienste, hoor!

Een erge Kersfees-krater het gister onvermeld gebly. Op grond van die duisende mense wat getref en ontwrig is, hoort daardie krater (of kraters) egter loshande onder die top-drie, saam met Van Deventer en me. Theron. Ja, ek verwys na die Nationwide-gemors.

Wie die meeste skuld dra – Nationwide self of Burgerlike Lugvaart – weet ek nie. Dat die hele gedoente vrot gehanteer is, en bitter vrot aan die publiek gekommunikeer is, is egter ‘n onomstootlike feit. Iewers sit iemand (of ‘n paar iemande) wie se stert (of sterte) vuurwarm geskop behoort te word

Moet ook nie die media vryspreek nie. Lanklaas het ek ‘n storie gesien wat so roep vir ‘n bietjie dieper grawe om by die regte antwoorde te kom. Maar wat doen ons media? Peusel-peusel so ‘n bietjie lusteloos daaraan en los dit gou-gou soos ‘n warm patat. Gaan ons nooit hoor wat WERKLIK gebeur het dat elke liewe Nationwide-vliegtuig terstond moes ophou vlieg nie?

‘n Laaste klippertjie in hierdie man se Kerskouse was in die oorspronklike blokkade-blog wat vinnig onttrek en gerepudieer is. Vir diegene wat dit nie daarin raakgelees het nie, herhaal ek dit graag hier. Bygese: dit val nie in die Krater-kategorie nie en word nie hier opgehaal met die implikasie dat dit vir die een of ander aweregse bekroning aspireer nie.

Waaroor ek beswaard is, is die skynbare gebrek aan ‘n Kinderbybel wat aan die ou heel kleintjies op ‘n bevatlike manier kernelemente van die Bybel, soos die Kersverhaal, vertel.

By ons Kersboom op Melkbos het ons dogter, Marisa, vir haar tweeling, Jacob en Thomas (hulle word in April 4), uit Struik sy “My heel eerste Bybel” met woorde deur Lois Rock en tekeninge deur Alex Ayliffe gelees.

Hoekom so ‘n broodnodige Afrikaane kinderboek vertaal moet wees, is ‘n ander vraag. Ons los dit maar daar. Maar om darem in die hoofstuk oor Baba Jesus (mooi opskrif!) so oor Maria se ongetroude status en Josef se bekommernis daaroor aan te gaan, laat hierdie oupa sy hande saamslaan. Die kleingoed begryp dit mos hoegenaamd nie. Daarom is dit eintlik in hierdie stadium vir hulle irrelevant en verwarrend.

Ek verwys hierbo na die “skynbare” gebrek aan ‘n baie basiese Kinderbybel wat nie bo snuiters se vuurmaakplek is nie en in hul eie idioom van vroeg af die Bybelgeskiedenis in hartjies en verstandjies kan vas-anker.

Die woordjie “skynbaar” is met ‘n doel daar. Dalk bestaan sulke Kinderbybels wel en weet ek maar net nie van hulle nie. Maar as daar nie is nie, lyk dit of ons hier ‘n yslike behoefte het – ‘n uitdaging wat ‘n Christenskrywer van kleinkinderboeke gerus kan aanpak. Die Kerk behoort so ‘n loflike projek ruim en met vreugde te subsidieer. (HvD)

Deel dit: