Mag die voorspoed jou verveel! So word ‘n mens soms toegewens. Voorspoed in Wildtuin-terme is vir baie mense hoeveel leeus hul besoek opgelewer het. Party hou sulke deeglike leeu-statistieke dat hulle na jare nog iewers kan gaan uitkrap watter jaar hul beste of slegste “leeujaar” was.
By Sabiepark beleef ons hierdie winter sulke “leeu-voorspoed” op ongekende skaal. Dit raak (darem net speel-speel) amper vervelig!
By die piekniekplek is ‘n boekie waarin waarnemings aangeteken kan word. Vir Julie staan die “leeu-telkaart” nou al op 8 dae. Dit sluit twee vangste in (albei rooibokkies), asook ‘n hand vol amper-vangste. Die Van D’s het een vangs met vyf minute misgeloop en die opwinding van een amper-vangs beleef.
Een keer het ons 11 leeus getel, drie mannetjies, vyf wyfies en drie welpies.
In die Wildtuin moet jy geduld, goeie tydsberekening en gesonde verstand gebruik. In al drie opsigte het ek en Tokkie op 26 Julie nie presteer nie. Ons is gewaarsku daar is leeus en daar is aan ons uitgewys waar hulle plus-minus onder die bosse wegkruip. Ons was oorhaastig om huis toe te gaan – om niks te gaan doen nie.
Vyf minute nadat ons ons kykpos verlaat het, stap die verkenner van ‘n trop rooibokkies water toe. Woerts, uit verskillende rigtings storm drie wyfies die benoude bokkie. Hy gly en val al tollende in ‘n stofwolk die wal af. Toe’s hulle op hom. In daardie stadium daag die kraagmannetjie op, skeur vir hom ‘n boud af en soek ‘n lekker eetplekkie in die koelte. Die wyfies gryp ook elkeen stuk en verkas.
Toe ek en my vrou ‘n halfuur “net weer gaan loer”, is alles doodstil en rustig. Maar Elvis, die waarnemende opsiener by die piekniekplek, vryf sout in ons wonde met sy kleurryke weergawe van die gebeure. Ai, ai…..
Van een amper-vangs het ons darem gawe aksiefoto’s. Een wat deur ons dogter, Marisa, geneem is, verskyn by die vorige blog. Van oud-kollega en vriend Salie de Swardt op Stellenbosch het dit die vermaning ontlok: sorg net dat julle nie deel van die leeus se piekniek word nie!
Ek wou my verstout om te se dat Julie Sabiepark se geilste “leeu-maand” in die geskiedenis moet wees. Een blik op Junie se inskrywings laat die rooiligte flikker. ‘n Mens moet altyd waak teen die hiperbool.
Buiten al die ander leeu-akwiteite op die oorkantste oewer van die Sabierivier in Junie, was daar enkele dae voor ons koms ‘n vlakvark-vangs. Op grond van ‘n SMS daaroor het ons laat weet: “Hou vas die leeus … ons is op pad!” Nou-ja, ons kan nie kla dat nie na ons geluister is nie!
Wat Sabiepark se piekniekplek so ‘n fantastiese uitsigpunt vir die leeus (en ander diere) se doen en late maak, is dat die oewer aan die Wildtuinkant so oop is. Dis amper ‘n kaal stuk veld, soos ‘n arena. Die vloed van 2000 was in ‘n groot mate daarvoor verantwoordelik deur die digte oewerbos plat te vee. Daarna het besige wildverkeer vir ‘n netwerk aaneengeskakelde wildpaadjies gesorg.
Nou kyk ons wild of ons op die Nationlal Geographic-kanaal op DSTV ingeskakel is – en ek het nie eens DSTV op Melkbos nie!
By ons boshuis Tarlehoet het ons na jare weer ‘n muskeljaatkatjie gesien. Hy het haastig voor die motor oor ons motorpaadjie geskarrel toe ons Sondagaand van die Nagmaal in Skukuza terugkeer. Die gebande muishondjies het om die duikertjie se pitjies kom meeding. ‘n Duiker-mamma en haar kleinding kom onder die kleed van die donker uit om te wei. Vanoggend het ‘n bosbokooitjie by die voels se bad water gedrink.
Nie net die groot goed sorg vir GROOT plesier nie! (HvD)
