Vir Zandra van Wyk (77), sjarmante, elegante lewensmaat aan die sy van daardie prins van rubriekskrywers, Johan van Wyk, groet ons Dinsdagmiddag in die Paarl. Op die kennisgewing van die tot-siens-diens by die Vergenoegd-kapel verskyn sy, toe nog’n jong vrou in haar fleur, by ‘n ryperd.

Die storie daaragter ken ek nie. Dadelik herinner dit my egter aan Johan se latere liefde vir ‘n ysterperd, so kragtig en blitsig as kan. En aan Zandra se versoening met daardie derde party van blink metaal in ‘n eiesoortige driehoek.

In sy eerste boek, ‘’So was dit’’, skryf Johan daaroor ‘n kostelike  hoofstuk met die titel ‘’Die pad na Tranedal”. Dis ‘n hoofstuk oor epiese togte op die langpad op sy Honda Gold Wing 1100 GL. Elke 500 km is trane gestort. Een keer het sy passasier 899 km ver gehuil.

Tuis gekom, sweer sy dan dit was die laaste. Maar as hy dromerig begin padkaarte bekyk, blink die donker oë en gaan koop sy dadelik ‘n nuwe jean.

Skielik tref dit hoe twee sterk eienskappe van hierdie sterk vrou in die verhaaltjie deurkom.  Die een ‘n onblusbare lewenslus, die ander ‘n vasbyt-vermoë soos min.

Sy was ‘n bok vir sports, onthou kollega Tobie Wiese haar onder meer in sy huldeblyk op Netwerk24.  Inderdaad.  Net ‘n rêrige bok vir sports sou maar telkens weer agter opklim – al die pyne onderlangs vergete.  Sonder ‘n stewige element avontuurlus sou niemand dit in elk geval met die “Oom” van Stop van myne (sy ikoniese rubriek in Die Volksblad) lank uitgehou het nie.

Dan: vasbyt.  Daarvan sou niemand Zandra iets kon leer nie.  Vyf jaar lank het sy teen ‘n aggressiewe borskanker vasgebyt, Maar as jy dit nie geweet het nie, sou jy dit nie kon sê nie.  Gekla het sy nooit, opgehou glimlag, het sy nooit.

Deur ‘n intense stryd met Covid was sy aan haar ernstige siek man se sy ‘n steunpilaar, soos altyd. Maar net opgesaal en voortgebeur; voortgebeur en haar kop vorstelik hoog gehou.

Ware aristokrasie was Zandra van Wyk voorwaar in voorkoms, optrede en ingesteldheid.  Daardie pragtige perdefoto met saal en toom en al is daarvan ’n treffende simbool.

Deel dit: