Lieberstein het uit Stellenbosch sy glorieryke buiging gemaak in 1959, juis die jaar dat wyn as alternatief vir bier en hardehout met mening by ons geslag Kollegemanne en by Tukkies in die algemeen posgevat het.
Of die studentevriendelike prys of die talmende semi-soet-smaak het waarskynlik die deurslag gegee. Met die intrap is die Stellenbosch- Boerewynmakery (SBW) se splinternuwe produk in liters op Tukkies se proefplaas verbruik. Halsoorkop as’t ware is die studerende jeug in ‘n ontwakende wynkultuur ingesleur. Selfs die deurlugtige koshuis-bierklub het ná effense weerstand geswig.
Weldra het die roem van hierdie juweel van die wingerdstok oor die wêreld heen gespoel. Een, twee, drie was Lieberstein die internasionale bobaasverkoper van sy era met ‘n hoogtepunt van 31 miljoen liter in 1964. Ons manne se bydrae was sekerlik nie te versmaai nie, maar hard soos ons probeer het, waarskynlik skaars ‘n druppel aan die vat.
In 1961 is ‘n tweede baken op my wynpad geplant. Die kongres van die Afrikaanse Studentebond is op Stellenbosch gehou. ‘n Treinvrag noordelike studente het vir die doel op Matieland toegesak. Met die afskeidsdinee in die stadsaal is toe nie Lieberstein op die tafel nie, maar ‘n ander staatmaker-dorslesser van sy tyd: Grünberger Stein.
Die bydrae tot die feestelikheid van die fassinerende groen bocksbeutel op die tafel was enorm. “Engeltjiepiepie” is die semi-soet steen dadelik studentikoos gedoop. By hierdie liefhebber is dadelik ‘n standhoudende affiniteit gekweek. Grünberger het lank ‘n eie voorkeurwyn gebly, ook nadat ek in 1963 as verslaggewer by Die Volksblad in Bloemfontein ingeval het.
Soos Lieberstein, het Grünberger Stein die mark stormenderhand getref.. Saam met Bellingham Johannisberger, Nederburg Stein en Graca was hy lank in die topvier in sy klas.
‘n Paletplesier van ‘n ander geaardheid is in die middel 60’s aan my openbaar, en wel deur my woonstelmaat Ben van Rensburg in La Gratitude in Unielaan, Bloemfontein. Die latere motorredakteur van faam had stewige Kaapse wortels – was onder meer ‘n Wilgenhoffer op Stellenbosch – en kon gesellig kuier rondom ‘n karba port waarvan hy vir ‘n bestendige invloei van Stukvat in die Paarl gesorg het. Dit was my wynbaken nommer drie.
Op 15 Maart 1966 het ek op Tokkie van Wyk se 20ste verjaardag ‘n verloofring aan haar vinger gesteek op ’n romantiese ete in die restaurant Franco’s in St. Andrewstraat. Die wyn onthou ek goed: die effens soeterige maar smaaklike Tassheimer Goldtröpfchen. Grünberger Stein en Tassheimer Goldtröpfchen het ons twee se witwyn gebly (af en toe afgewissel met ‘n rooietjie, hoofsaaklik Zonnebloem Cabernet).
Eintlik moet ek kwalifiseer: dit was ons tuisveld-wyn. Ons vakansiewyn daardie tyd was ‘n Vinkrivier uit die Breederiviervallei (‘n Riesling, meen ek) wat deur studentemaat Proppie Goosen van George aan ons bekend gestel is op ‘n vakansie op Buffelsbaai. Daardie lekker wyn het by ons so geliefd geraak soos Buffelsbaai self.
Nou nog as ek op die R60 tussen Worcester en Roberston die afdraai na Vinkrivier sien, dink ek met verlange aan daardie welaangename wyn wat soos sovele ander gunstelinge van vervloeë tye onverklaarbaar net van die rakke af verdwyn het.
(Word vervolg)