Plus-minus die laaste 10 jaar gaan ons gesin vir die duur van die KKNK tuis in Kleinplaas, Oudtshoorn. Tokkie en die tweeling, Jacob en Thomas, is op die foto hierbo juis verlede jaar by die ingang afgeneem. Die huisie wat ons huur, is die tweede of derde van die kampeerders se badkamerblok.
Die eerste jare kon ek nog vinnig daar inglip om “neus te poeier” as die verkeer by ons badkamertjie te druk raak. Later het dit verbode terrein geword. Net die kampeerders kry sleutels vir daardie badkamers se deur. Dit is hul heiligdom.
Klaarblyklik word ek nie geweer omdat ek spierwit-grys, erg oorgewig en rooierig van aanskyn is nie. Die klaarblyklike rede is: ek is nie ‘n kampeerder nie. Die feit dat ek honderde rande per nag vir my huisie betaal en wettig heen en weer by Kleinplaas se valhek kan in- en uitry met ‘n plakker op my motor se voorruit, verander niks aan daardie onomstootlike feit nie.
Projekteer die stort-moles in Langebaan nou teen hierdie scenario. Hoe jammer ‘n mens is oor verleenthede wat veroorsaak is, bied die Kleinplaas-analogie ‘n ander perspektief op wat by die Oostewal-woonwapark gebeur het. Laasgenoemde se probleem is klaarblyklik net dat sy badkamers nie gegrendel word om opportunistiese indringers uit te hou nie.
Sommige mense is darem vinnig uit hul blokke om ‘n rassisme-stertjie aan enigiets maar enigiets vas te speld waar kleur selfs net lossies ter sprake kom. Hiervan is die Afrikaanse media in huidige gedaante nie vry te spreek nie. Wat Langebaan betref, word Moslemskap boonop bygesleep om die storie sappiger te maak – asof die stortende Adams-gesin (plus aanhangsels) eers ‘n geloofsbelydenis onder die neergietende warm water moes aflê!
Wat is nou die ergste rassisme: om hardekwas oortreders hardhandig (te hardhandig?) uit ‘n gereserveerde badkamer te boender of om verreweg die beste kandidaat vir die Springbok-afrigterspos oor die hoof te sien op grond van sy gebrek aan pigment? En my gesag vir laasgenoemde stelling oor ‘n politieke aanstelling – hoe hartverskeurend jammerlik! – is niemand minder nie as Oregan Hoskins, grootbaas van SA rugby, self.
Maar nou swyg die rassisme-roepers op die mure in alle tale.
De la Rey, De la Rey, kom tog die Boere bevry, De la Rey, van hul oordrewe skuldgevoel, De la Rey… (HvD)
(Naskrif: ‘n Verkorte weergawe van hiedie webjoernaal is na Die Burger gestuur as ‘n brief. HvD)
